Wedstryde in 2010-Wêreldbeker glo geknoei

Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) het sy president, Kirsten Nematandani, en vier senior administrateurs geskors ná ‘n Fifa-verslag oor wedstrydknoeiery.

“Dit beteken hoegenaamd nie dat hierdie individue by die wedstrydknoeiery betrokke was nie,” het Safa Maandag in ‘n verklaring gesê. “Dit is bloot goeie bestuur dat dié maatreël ingestel is.” Safa se noodkomitee het Vrydag en Sondag vergader nadat die Internasionale Sokkerfederasie (Fifa) verlede week ‘n verslag oor opwarmingswedstryde voor die 2010-Wêreldbeker uitgereik het. ‘n Kommissie van Ondersoek, onder leiding van ‘n afgetrede regter, sal die saak ondersoek.

Buiten Nematandani, sal Dennis Mumble, SAFA se tussentydse hoof uitvoerende beampte, Adeel Carelse, hoof van skeidsregters, Lindile Kika, hoof van nasionale spanne, en Barney Kujane, voormalige hoof van nasionale spanne, vrywillige verlof neem nadat hul name in die Fifa-verslag genoem is. Hulle sal ook in die ondersoek getuig. Hoofman Mwelo Nonkonyana, visepresident van Safa, sal intussen as president waarneem. Pinky Lehoko is as tussentydse hoof uitvoerende beampte aangestel.

“Dit is ‘n baie moeilike situasie vir die vereniging, en vir diegene wat in die verslag genoem is,” het Nonkonyana gesê. “Ons hoop dat daar geen bespiegelinge oor hul skuld of onskuld sal wees nie. Ons moet die kommissie die geleentheid bied om die ondersoek regverdig en spoedig af te handel sodat die onskuldiges en skuldiges van mekaar onderskei kan word.”

Safa sê hy het aan Fifa om verskoning gevra nadat “oortuigende bewyse” opgespoor is dat daar met die uitslae van die opwarmingswedstryde geknoei is. Die Fifa-verslag is deur Chris Eaton, voormalige hoof van Fifa se sekuriteit, opgestel nadat ‘n fop-sokkerontwikkelingsmaatskappy, Football 4U, skeidsregters vir die opwarmingswedstryde verskaf het. Dit het later aan die lig gekom dat die maatskappy deel is van ‘n Asiese sindikaat onder leiding van Wilson Raj Perumal. Perumal is aan wedstrydknoeiery skuldig bevind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.