Mxhasi Sithethi, streekskoördineerder van die National Union of Mineworkers (NUM), het gesê die situasie by Lonmin se Marikana-myn is gespanne nadat werkers weer met ‘n onwettige staking begin het.
Hy het gesê die betogers is lede van die Association of Mineworkers and Construction Union (AMCU), en hou die betoging moontlik verband met die onlangse moorde van AMCU lede, waaronder ʼn streekleier, Steven Khululekile. Hulle eis glo ook dat NUM hul kantore by die myn sluit.
“Ons kan bevestig dat werksaamhede opgeskort is. Werkers het by die myn opgedaag, maar nie ondergronds gegaan nie. Die rede daarvoor is nie duidelik nie,” het Sue Vey, woordvoerder van Lonmin, gesê.
Intussen berig RSG dat Lonmin se aandele met 7% geval het ná die aankondiging dat 13 van sy mynskagte gesluit is. Volgens RSG volg die jongste arbeidsonrus ‘n dag nadat Lonmin aangekondig het dat sy wins meer as verdubbel het in vergelyking met verlede jaar toe arbeidsonrus en die bloedbad waarin 34 mense die myn finansieel erg skade berokken het. Lonmin sukkel sedertdien om finansieel te herstel en na volle produksie terug te keer.
Bronne: Sapa / RSG