Weer ‘n Clinton in die Withuis?

Hillary Clinton

Oud-president Bill Clinton sal Woensdagaand op die Demokratiese Party se konvensie die sittende president, Barack Obama, se formele nominasie as die party se presidentskandidaat vir die komende presidentsverkiesing doen.

Volgens kommentators gaan hy in die proses sy eie vrou, Hillary, se naam as kandidaat vir 2016 se verkiesing in die hoed plaas.

Meer as ‘n dekade gelede was daar ‘n liederlike wolk oor Bill Clinton se kop as destydse president, onder meer oor die Monica Levinsky-affêre. Vier jaar gelede was die verhouding tussen Clinton en Obama stram, berig die Los Angeles Times.

Maar sedertdien het die verhouding hartlik geword, terwyl Hillary die aandag trek as minister van buitelandse sake.

Clinton se gewildheid het ondertussen baie gegroei, en in gewildheidsopnames klop hy Obama gerieflik. Nou werp hy sy gewig ten volle by Obama in, en is onder meer ‘n baie suksesvolle fondsinsamelaar vir Obama se verkiesingsveldtog. Dit is dus ‘n goeie strategiese skuif om Clinton die nominasie te laat doen, maar in die proses gaan Clinton twee vlieë met een klap slaan, meen kommentators.

Dat Hillary aangedui het dat sy met die komende presidentsverkiesing as minister bedank, versterk eerder die opvatting dat Hillary haar vere reg skud vir ‘n aanslag op die Withuis. Dit is nie konvensie dat ‘n sittende minister ‘n presidentskandidaat word nie.

Hillary het met die vorige presidentsverkiesing probeer om president te word, maar hoewel sy as openbare figuur minstens net soveel gesag as Bill afdwing, het sy in die nominasiestryd die onderspit gedelf. Daar is destyds wyd bespiegel dat Obama Hillary as sy vise-presidentskandidaat sou aanwys, maar Obama het voorrang aan Joe Bidden gegee. Hillary is egter as minister van buitelandse sake aangewys, en so in die openbare oog gebly.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.