Weermaglid ʼn beskuldigde in Jhb-polisiehoof se moordsaak

Genl.maj. Tirhani Maswanganyi

Een van die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle genl.maj. Tirhani Maswanganyi (51), Johannesburgse polisiehoof, vermoor het, is ʼn lid van die weermag.

Ndaedzo Isaac Vele (29), Tshepo Mosai (30), Roger Godfrey Moseki (33) en Nditsheni Daniel Nefolovhodwe (32) het vlugtig in die Pretoria-Noord-distrikshof verskyn voor hul borgaansoek uitgestel is. Maswanganyi se lyk is op 17 Junie in ʼn veld naby Hammanskraal, noord van Pretoria, gevind. Sy hande en voete was vasgebind. Maswanganyi se bakkie is langs die R101 gevind. Lucas Moseki, die staatsaanklaer, sê die staat staan borgtog teen vir al vier beskuldigdes. Vele het in ʼn beëdigde verklaring wat in die hof voorgelees is, gesê hy is ʼn soldaat en dat hy bang is hy gaan sy werk verloor indien hy te lank in aanhouding bly. Vele sê sy verloofde is swanger en sal na verwagting in November aan hulle eerste kind geboorte skenk. Hy het ook erken dat hy ʼn vorige veroordeling het vir verkragting waarvoor hy ʼn opgeskorte vonnis ontvang het. Vele sê hy het op die dag van die moord sy bevelvoerder by die lughawe opgelaai en daarna ʼn paar takies vir haar afgehandel. Vele se bevelvoerder het ʼn verklaring geskryf wat in die hof voorgelees is waarin sy bevestig dat hy haar by die lughawe opgelaai het op die dag. Die saak gaan Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

petra ·

Hoe kry hulle dit reg om hierie moornaars so vinnig te vang en daar is moordenaars wat nog nooit gevang is nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.