Weerwet kry wind van voor

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Dinsdag gesê die Weerwet se wysigingswetsontwerp moet aangepas word sodat daar slegs opgetree kan word teen diegene wat misleidende waarskuwings maak.

Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, het gesê ingevolge artikel 30(A) van die wysigingswetsontwerp is dit ʼn oortreding om ʼn waarskuwing oor uiterste weersomstandighede of lugbesoedeling sonder die nodige skriftelike toestemming van die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) uit te reik. ʼn Vonnis van tot R10 miljoen of 10 jaar gevangenisstraf kan vir so ʼn oortreding opgelê word.

“Indien dié wetgewing toegepas word, kan dit ernstige gevolge inhou. Wanneer daar na kumulatiewe omgewingsrampe gekyk word, hetsy dit ʼn tornado of ʼn gifgaspyp is wat bars, is die tydsberekening van ontruiming noodsaaklik om die impak te beperk en te bestuur en sodoende ʼn ramp te voorkom,” het Kleynhans gesê.

AfriForum is van mening dat die meeste mense in 2012 in Hoedspruit se oorstromings gered is deur die gemeenskap se kommunikasie. “Die meeste van ons land se rampe hou met die weer verband. Dit sal ’n tragedie wees as burgers die reg ontsê word om hul gemeenskappe te waarsku.”

“Dit is egter belangrik dat die publiek weerwaarskuwings van ’n betroubare bron kry en dat valse of misleidende waarskuwings nie gemaak word wat tot paniek of beserings kan lei nie. Die wet moet aangepas word sodat daar slegs opgetree kan word teen diegene wat misleidende waarskuwings maak,” het hy bygevoeg.

“Omgewingsmoniteringsprogramme en -bestuurstelsels sal nie doeltreffend wees indien hierdie wetsontwerp goedgekeur word nie. Wat as die SAWD nie hul telefoon antwoord nie of jy nie ʼn faks ontvang nie?”

“Die gevolg van hierdie klousule is dat die SAWD nie aanspreeklik gehou kan word as dit nie sy werk behoorlik doen nie. Gevolglik kan diegene wat verantwoordelik is vir ʼn mensgemaakte omgewingsramp nie daarvoor aanspreeklik gehou word nie. Dit geld ook vir gevalle waar verliese weens die Weerdiens se versuim sou plaasvind.”

AfriForum het verlede jaar kommentaar oor die voorgestelde wysigingswetsontwerp van die SAWD aan die portefeuljekomitee vir water- en omgewingsake voorgelê. Die burgerregte-organisasie is gekant teen die wetsontwerp, omdat dit ʼn hoë risiko vir die samelewing inhou en landsburgers se vryheid van spraak sal inperk.

Sluit aan by AfriForum om hierdie en ander kwessies in ons gemeenskappe aan te pak. SMS jou dorp se naam na 31336. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

De Wet Momberg ·

Ek wil sien hoe julle die wet gaan toepas aangesien noodtoestand te pleit ‘n geregtelikke aanvaarbare verweer is in die hof !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.