“Weg met Afrikaans en Engels uit volkslied” sê polisievakbond

Die polisievakbond Popcru het Maandag voorgestel dat die Afrikaanse en Engelse gedeelte van die land se volkslied, Nkosi Sikelel’ iAfrika, uitgelaat moet word.

ʼn Afgevaardigde van die vakbond het dié voorstel gemaak by die vakbondfederasie, Cosatu, se 11de nasionale kongres wat by Gallagher Estate in Midrand gehou is.

Duisende Cosatu-lede het Maandagoggend opgedaag vir die eerste dag van die kongres. Die vakbond pak dié week ‘n aantal kwessies aan, veral oor sy verhouding met die ANC en of hy pres. Jacob Zuma vir ‘n tweede termyn gaan steun.

Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, het in reaksie op Popcru se voorstel oor die weglating van Afrikaans en Engels in die land se volkslied, gesê: “So ‘n besluit sal lei tot die vervreemding van minderhede. ‘n Demokrasie se sukses word juis getoets aan sy vermoë om minderhede te beskerm en te laat tuis voel, want meerderhede word beskerm deur hul meerderheid. Die volkslied is ʼn simbool van die land se verbintenis om vir almal ‘n plek in die land te gee. As jy sekere gedeeltes uitlaat, sal dit ook simbolies wees dat daar net plek vir die meerderheid is. Waar die volkslied nou ‘n simbool is van ʼn inklusiewe demokrasie vir almal, sal die weglating van sekere dele ‘n simbool wees van ‘n eksklusiewe demokrasie net vir die meerderheid,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.