“Weg met ongekwalifiseerde amptenare” – AfriForum

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag ʼn veldtog aangekondig om ongekwalifiseerde munisipale amptenare die trekpas te gee.

Die organisasie sê in ʼn persverklaring hulle gaan munisipaliteite wat amptenare in diens het wat nie voldoen aan die minimum bevoegdheidskriteria, soos uiteengesit in die Munisipale Regulasies oor Minimum Bevoegdheidsvlakke nie, versoek om sodanige werknemers onmiddellik uit hulle poste te verwyder.

“Dienslewering in Suid-Afrika gaan agteruit omdat te veel munisipale amptenare nie gekwalifiseer is om die werk te doen waarvoor hulle aangestel is nie. Munisipaliteite moet hierdie mense uit hulle poste verwyder en mense aanstel wat die nodige voorgeskrewe kwalifikasies het,” sê Ivan Herselman, AfriForum se adjunkhoof vir plaaslike regeringsake.

Gedurende die jaarlikse konferensie van die Instituut vir Munisipale Finansiële Amptenare wat op 8 Oktober 2012 by Emperor’s Palace plaasgevind het, het Pravin Gordhan, die minister van finansies, dit duidelik gestel dat die keerdatum van 1 Januarie 2013 vir voldoening aan die regulasies nie onderhandelbaar is nie.

Voorsitters van die 100 AfriForum-takke sal dokumente op sowat 60 munisipaliteite beteken waarin hulle versoek sal word om bewyse te verskaf dat amptenare aan die minimum bevoegdheidsvlakke voldoen.

Die munisipaliteit het tot en met 4 Maart om op AfriForum se aansoeke te reageer. Indien munisipaliteite nie reageer op die aansoeke nie, sal AfriForum die hof nader om hulle te dwing om bewys van die kwalifikasies van die betrokke amptenare te voorsien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.