Weggooi-skildery verkoop vir R55 700

Ethel Ruth Prowse se The Bluff, Durban

ʼn Skildery wat in ʼn asblik in die Karoo weggegooi is, het Maandagaand R55 700 by ʼn veiling in Kaapstad gehaal.

Die skildery wat ʼn toneel van The Bluff in Durban uitbeeld, is meer as ‘n eeu gelede deur die Kaapse kunstenaar, Ruth Prowse, geskilder. Dit is 25 jaar gelede in ʼn asblik in Lainsburg gevind. Die persoon wat die skildery gekry het, het dit in ʼn asblik gesien terwyl hy vullis verwyder het wat huurders op sy perseel gelos het. “Hy het baie van die skildery gehou en besluit om dit te hou,” het Bina Genovese, woordvoerder van StraussArt.co.za gesê. Die eienaar het onlangs die skildery vir ‘n waardasie geneem en daar is geskat dat dit tussen R25 000 en R30 000 werd is. “Hy was baie verras, maar was nog meer verras toe dit gisteraand vir R55 700 verkoop is,” het sy gesê.

Die skildery is as deel van Strauss & Co se Kaapstadse kunsveiling opgeveil waar 102 kunswerke verkoop id. ʼn Totaal van R46 miljoen is uit die kunswerke gemaak. Die hoogtepunt van die aand was ʼn skildery van Irma Stern, Malay Girl, wat vir R11,7 miljoen opgeveil is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.