Die ma wie gisteroggend haar pasgebore baba seuntjie in ʼn asblik weggegooi het, is Donderdagmiddag deur die Brooklyn-polisie aangekeer. Dit volg nadat ‘n inwoner die storie in die media gelees en daarop gereageer het.
Die babatjie se lewelose liggaam is Woensdagoggend in ʼn munisipale-asblik in die spogbuurt, Newlands in Pretoria, gekry. Die babatjie was in ʼn swartsak, tussen huishoudelike rommel, in die asblik weggegooi.
Volgens adjudant-offisier Annabelle Middelton, ʼn woordvoerder van die Brooklyn-polisie, is die ma ‘n huishulp wat in die buurt gewerk het. “Daar is bewyse van die geboorte in haar kamer gekry. Sy moet Maandag in Hatfield-gemeenskapshof verskyn. Sy gaan van moord en verberging van geboorte aangekla word,” het Middelton aan Maroela Media gesê.