Agt mense is dood en tientalle beseer toe ‘n bom voor ‘n polisiestasie in die suidooste van Turkye ontplof het. Niemand het verantwoordelikheid aanvaar nie, maar dit het naby aan die Siriese grens plaasgevind waar Koerdiese geweld vir outonomie die laaste ruk begin eskaleer het.
Japannese joernalis sterf in Sirië
‘n Japannese oorogsverslaggewer, Mika Yamomoto, het in ‘n koeëlreën in die Siriese stad, Aleppo, omgekom. Die 45-jarige Yamomoto het gesterf toe sy saam met ‘n kollega onderweg was na die rebelle om verslag te doen. Altesaam 34 joernaliste is reeds vanjaar wêreldwyd in geweld dood, aldus die waghondorganisasie, Verslaggewers Sonder Grense. Nog 27 internetverslaggewers en burgerlike korrespondente is ook in geweld dood.
Ethiopiese premier sterf
Die Ethiopiese premier, Meles Zenawi, is oorlede. Hy was sedert Julie in Brussel gehospitaliseer, maar die Ethiopiese mededeling maak bloot melding dat hy in die buiteland was toe hy gesterf het. Die adjunk-premier, Haile Mariam Desalegn het die verantwoordelikhede oorgeneem.