Wêreld vier Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede

Internasionale Dag vir die Uitwissing van Armoede word vandag oor die wêreld heen gevier. Die doel van hierdie dag is om bewusmaking oor die belangrikheid daarvan om armoede uit te roei, te skep.

Volgens Solidariteit Helpende Hand moet die amptelike resultate om armoede in ons land uit te wis, eerder betreur word. Die land se getal werkloses staan volgens Statistieke SA op 4,47 miljoen mense.

Volgens die Suid-Afrikaanse Kamer van Handel en Nywerheid (SAKHN) is hierdie vlakke steeds heeltemal te hoog vir volhoubare ontwikkeling. Dié organisasie het sy kommer uitgespreek dat byna elke tweede Suid-Afrikaanse volwassene werkloos is.

Miljoene mense ontvang egter die een of ander maatskaplike toelaag. Volgens die regeringsagentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) het 16 042 764 mense teen einde Augustus 2012 ’n maatskaplike toelaag ontvang. Van die 335 036 aansoeke wat tydens die eerste kwartaal van die 2012–2013-boekjaar ontvang is, is net 18 516 aansoeke afgekeur.

“Met statistiek soos hierdie in gedagte is dit vreemd om te hoor dat Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling, glo onderwys en opleiding kan ’n belangrike rol in die stryd teen armoede speel,” sê dr. Danie Brink, die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. “Adjunkpresident Kgalema Motlanthe glo dat Suid-Afrika armoede binne 20 jaar kan uitroei, maar die statistiek vertel ’n ander storie. Helpende Hand glo werklik dat opheffing-deur-opleiding die antwoord is om armoede volhoubaar uit te roei. Die skep van ’n welsynstaat bied nie ’n langtermynoplossing vir armoede nie,” sê hy.

Die organisasie se nasionale opheffingsprojekte is daarop gemik om opleiding te bevorder. Deur die Kosblikkieprojek word kleuters toegerus om hulle skoolloopbaan slaggereed en skoolryp te begin. Die Skooltassieprojek verskaf skooltassies, skryfbehoeftes en professionele leiding aan behoeftige graadeens. Leerders word deur middel van beroepsleiding en -voorligting bygestaan om weldeurdagte en ingeligte besluite oor hul toekoms te maak. Jongmense word ’n kans op ’n ekonomies onafhanklike toekoms gegun deur die toekenning van rentevrye studiebeurse. Werksoekers word die geleentheid gebied om suksesvol werk te soek en te kry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.