1 500 ontruim toe vulkaan in Hawaii uitbars

Foto: Kevan Kamibayashi/USGS via AP

Nagenoeg 1 500 inwoners is ontruim toe die Kilauea-vulkaan in Hawaii uitgebars het. Lawa het deur die woud gevloei en in geplaveide strate opgeborrel.

Beamptes kan nie bevestig hoe lank die uitbarsting, wat Donderdag begin het, sal duur nie. Hawaii se goewerneur het die Nasionale Reserwemag geaktiveer om te help met die ontruimings en veiligheid te verskaf aan ongeveer 770 strukture wat leeg staan nadat die inwoners gaan skuiling soek het.

Daar is nie dadelik enige berigte van beserings nie.

Owerhede het gesê stoom en lawa stroom uit ʼn kraak in Leilani Estates, naby Pahoa. Beeldmateriaal op plaaslike media wys hoe die lawa in die lug in spoeg uit ʼn skeur in die pad. Hommeltuig-beeldmateriaal wys hoe die lawa deur ʼn woud vloei.

Asta Miklius, ʼn geofisikus by die USGS, het telefonies aan die Associated Press gesê daar is nie ʼn manier om te bepaal hoe lank die uitbarsting sal voortduur nie. “Een van die maatstawwe is of die magma-reservoir sal begin dreineer in reaksie op die uitbarsting, en dit het nog nie gebeur nie. Daar is heelwat magma in die stelsel. Ons hou dit fyn dop.”

Nabygeleë gemeenskapsentrums het hul deure oopgemaak vir die inwoners wat skuiling soek. Ranson Yoneda van die Pahoa-gemeenskapsentrum het ʼn gimnasium voorberei vir die inwoners nadat dit as ʼn Rooikruis-ontruimingsentrum aangewys is. Hy het gesê mense wat daar opdaag wil meer inligting hê. “Hulle wil net weet wat gaan aan, want hulle is aangesê die ontruiming is verpligtend.”

Die USGS het gesê nuwe skeure is Donderdagmiddag aangemeld.

Dié uitbarsting volg net dae ná aardbewings die Puna-distrik geskud het. ʼn Nabygeleë skool moes sy deure sluit as gevolg van seismiese aktiwiteit en verskeie paaie wat gekraak het. ʼn Aardbewing van 5.0 is net voor die vulkaniese uitbarsting aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.