1 800 ontsnap uit Nigeriese tronk

Argieffoto (Foto: Ichigo121212/Pixabay)

Inwoners leef in vrees in die suidooste van Nigerië ná gewapende mans Maandag op ʼn gevangenis toegeslaan, meer as 1 800 gevangenes bevry en ʼn polisiestasie geplunder het.

Die dorp Owerri is kalm, maar daar is ʼn gespanne atmosfeer en inwoners sê hulle is besorg oor geweld van die gevangenes of dat hulle in ʼn aanval deur sekuriteitsmagte kan beland.

“Talle is bekommerd dat die ontsnapte gevangenes sal terugkeer. Ander is besorg dat die sekuriteitsmagte uit weerwraak teen hulle sal optree,” het die plaaslike joernalis Damian Duruiheoma gesê. Volgens hom is daar swaar sekuriteit in die omgewing. “Die gebiede wat aangeval is, is afgesper.”

Buite een van die geboue staan voertuie wat aan die brand gesteek is en brandskade kan ook op die mure gesien word.

Gewapende mans het Maandagoggend vroeg springstof gebruik en hul pad oopgeblaas in Owerri-gevangenis. Hulle was in ʼn skietgeveg betrokke met wagte en het gevangenes bevry, het die departement van korrektiewe dienste gesê. Altesaam 1 844 gevangenes is bevry.

“Sommige van die gevangenes is weer aangekeer, maar ons is nog op die spoor van die res,” het ʼn beampte van die tronk aan AFP gesê. Hy wou nie sy naam bekendmaak nie en wou ook nie getalle bekendmaak nie.

Volgens plaaslike media is die polisie se hoofkantoor in die dorp ook geplunder. Vuurwapens is gebuit en talle voertuie is aan die brand gesteek.

ʼn Inwoner, Chizoba Ekeh, het aan AFP gesê “almal is op hul hoede, maar gaan aan met hul daaglikse take”.

Nog ʼn inwoner, George Onyemuwa, is ook bekommerd. “Ons weet nie wie die oortreders is nie, maar ek dink die regering moet dringend ingryp voor dit handuit ruk.”

Geen groep het tot dusver verantwoordelikheid aanvaar nie, maar pres. Muhammadu Buhari het die aanval ʼn “terreurdaad” genoem wat deur “anargiste” uitgevoer is. Hy het sekuriteitsmagte versoek om die aanvallers en die ontsnapte gevangenes aan te keer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Tanja ·

Hulle is almal oppad SA toe, helfte van hul boeties is alreeds hier, want in SA maak hy soos die Wiille Weste

Surfer ·

Kry julle almal in Johannesburg, veilige hawe hier. Hier loop misdadigers vry rond of kry n pos in die regering. Stem net ANC.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.