1% van wêreld ryker as al die res

Argieffoto

Argieffoto

Die wêreld se rykste 1% besit meer rykdom as die res van die wêreld saam, het Oxfam International bekend gemaak.

Die navorsingsverslag wat pas deur Oxfam, ʼn internasionale konfederasie wat armoede beveg, bekendgemaak is, dui daarop dat die krisis van wêreldwye ongelykheid nuwe afmetings aanneem.

Die studie toon onder meer ook dat die rykste individue in die wêreld weens ʼn internasionale netwerk van belastingstelsels $7,6 miljard bymekaargemaak het, terwyl die armer helfte van die wêreld se bevolking oor die afgelope vyf jaar ʼn miljard dollar minder verdien het.

Volgens Oxfam het die volgende skokfeite tydens die studie aan die lig gekom:

  • In 2015 het 62 individue dieselfde rykdom as 3,6 miljard mense gehad.
  • Die rykdom van die 62 rykste mense in die wêreld het oor die afgelope vyf jaar met 44% gestyg. Dit is ʼn vermeerdering van meer as ʼn halfmiljard dollar.
  • Intussen het die armer helfte van die bevolking se rykdom met 41% verminder.
  • Die gemiddelde jaarlikse inkomste van die 10% armste mense in die wêreld het oor die afgelope 25 jaar jaarliks met minder as $3 gestyg.
  • Die meerderheid van die wêreld se laagste betaalde werkers is vroue wat dikwels ook in haglike omstandighede werk.
  • Hoofuitvoerende beamptes van die topmaatskappye in die VSA se vergoeding het sedert 2009 met 54,3% gestyg, terwyl gewone lone skaars verander het. Die hoof uitvoerende beampte van Indië se top inligtingstegnologiemaatskappy verdien 416 keer die gemiddelde salaris van werknemers by dieselfde maatskappy.
  • Vroue beklee die posisie van hoof uitvoerende beampte in slegs 24 van die Fortune 500 maatskappye.

“Die groeiende ekonomiese ongelykheid is nadelig vir ons almal, aangesien dit groei en sosiale samehorigheid ondermyn. Die gevolge vir die wêreld se armstes is veral ernstig,” het Oxfam gesê. “Ons kan nie ontken dat die ware wenners in ons internasionale ekonomie diegene aan die toppunt is nie. Ons ekonomiese stelsel leun in hul guns en dit is waarskynlik al hoe meer die geval. In plaas daarvan dat inkomste en rykdom deursyfer na onder, word dit teen ʼn skrikwekkende pas na bo gesuig.”

Volgens Oxfam is die grootste rede vir die verskynsel dat die opbrengs op kapitaal soveel meer is as op arbeid. “Werkers trek al hoe minder voordeel uit ekonomiese groei, terwyl die eienaars van die kapitaal deurlopende groei op hul kapitaal sien deur middel van rente, dividende of teruggehoue winste, vinniger as wat die ekonomie groei.”

Belastingontduiking en regerings wat belasting op kapitaalgroei verminder, dra verder tot die rykes se inkomste by. Aangesien regerings gebuk gaan onder die verminderde belastinginkomste, word belasting deur indirekte belasting ingevorder soos BTW, wat weereens buite verhouding op die armes neerkom.

“Ons wêreld het nie ʼn tekort aan rykdom nie. Dit maak net geen ekonomiese of morele sin dat dit in die hande van so min individue is nie. Oxfam glo dat die mensdom beter kan doen as dit, dat ons die talent, die tegnologie en die verbeelding het om ʼn beter wêreld te bou. ʼn Wêreld waar daar behoorlike werk vir almal is, waar vroue en mans gelyk is en waar die rykstes hul regverdige deel betaal om ʼn samelewing wat tot almal se voordeel is, te ondersteun.”

Lees die volledige verslag hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Dennis ·

Na die Zuma debakel met Nene tel ons ook as deel van die 41% wat inkomste verloor het.

Adoons ·

Deel nou die rykstes se $7.6 miljard deur die armste 3.6 miljard mense. Dan ontvang elke individu sowat R35 in sy sak, en het ons die wereld se armoede opgelos.

Loeis ·

Goeie punt Adoons. Sosialisme is nie die oplossing nie, wel sisteme waarin regverdige minimum lone betaal word en waar ryk belasting ontduikers se weelderige lewens met lewens in die tronk vervang word.

Beter onderwys kan ook bydra dat mense nie in die ‘gevangenes’ van onkunde gehou word nie. Demokrasie gee die mense die politieke mag om mense in te stem wie vir hulle regte staan. As polotici dan nie daardie mandaat nakom nie, vervang hulle weer.

Trolle ·

Die wereld system is so onwerp om hulle nog ryker te maak.Hulle noem dit NWO die gewone mense gaan almal opeindig as slawe vir hulle as dit nie gestop word nie ek weet al jare daarvan het gesien hoe raak dit erger.My hoop is op Trump en Putin om dit te stop 90% van die wereld se populasie slaap en weet nie en worry ook nie wat aangaan in die wereld nie.Hulle lewe net vir nou worry niks waarin hulle kinders eendag gaan gebore word nie.

Chris Möhr ·

Wel die ou wêreldorde is ‘n grote gemors vir mens en dier. Dit is hoog tyd vir ‘n NWO.

Jaco Grobler ·

Ironies dat jy hoop in Trump sit wat sekerlik onder daai top 1% val. Rykdom en armoed sal daar altyd wees, as dit nou is omdat jy daarin gebore is, en of jy self die oorsaak is. Maak vrede daarmee, en help minder bevoorregtes waar jy kan, ons skatte in die hemel is wat saakmaak. Geld is ook nie alles nie, ek ken Mosambiekers in eenkamer riethuisies wat meer lag as baie ‘rykes’ in die voorstede.

Trolle ·

Jaco jy is reg geld is eintlik n groot evil en is die duiwel se beste tool wat hy het en bring geen geluk nie.Jy sal nie verstaan wat ek bedoel met Trump en Putin nie as jy nie sien watse mense nou in beheer van die wereld is nie.Alle bad goed wat nou gebeur in wereld is nie perongeluk nie alles is haarfyn beplan deur daai ouens sodat mense die NWO met ope arms gaan aanvaar.

Trolle ·

Chris die probleem is dis daai 1% wat alles veroorsaak.Wil jy regtig he jou kinders moet onder sulke mense wees?

Johannes Meintjes ·

Miskien moet ons maar weer God se Wet en Orde probeer, – en in rentmeesterskap optree van wat aan ons elkeen toevertrou is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.