10/10 vir manjifieke Max!

Max Verstappen vier sy tiende oorwinning op ’n streep. (Foto: Twitter/Red Bull)

Carlos Sainz en Charles Leclerc het vandag hul bes op Ferrari se tuisbaan probeer om Red Bull te stuit, maar Max Verstappen het nogtans die geskiedboeke in Monza herskryf.

Die geruite vlag is vir die tiende keer op ʼn streep vir die verdedigende wêreldkampioen geswaai; ʼn nuwe F1-rekord.

Sainz het eerste in sy rooi Ferrari-vuurwa weggespring en die Spanjaard het hom goed van sy taak gekwyt. Vir meer as tien rondes het hy die kat-en-muis-speletjie met Verstappen gewen, maar die Nederlander is gʼn huiskat nie: Hy is ʼn jagluiperd wat weet hoe om wedrenne te wen en hy het die voortou in die 15de ronde geneem.

Daarna het vernuftige bestuurwerk en ʼn goeie kuipstrategie gesorg dat hy weer met die louere weggejaag het.

Sergio Perez was volgende oor die wenstreep in sy Red Bull.

Leclerc en Sainz se tweestryd het ook vir opwinding gesorg met Leclerc wat in die pylvak so byna in sy spanmaat vasgejaag het.

Tog het Sainz vasgebyt om ʼn welverdiende podiumplek in te oes – dit was beslis een van sy beste vertonings agter die stuur van ʼn Ferrari.

Maar terug na Verstappen, benewens sy segerekord geniet hy nou ʼn voorsprong van meer as 140 punte op die jaerspunteleer, terwyl Red Bull ook loshande voor op die vervaardigerspunteleer is.

“Ek het nooit in my wildste drome gedink dat tien agtereenvolgende seges moontlik is nie. Carlos het vandag ʼn blitsige vertoning gelewer en ek moes geduldig wag totdat hy ʼn fout gemaak het. Toegegee, dit was sekerlik nie ʼn seepgladde vertoning nie, maar ons het dit gemaak,” het Verstappen gesê.

Uitslae:

  1. Max Verstappen (Red Bull)
  2. Sergio Perez (Red Bull)
  3. Carlos Sainz (Ferrari)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. George Russell (Mercedes)
  6. Lewis Hamilton (Mercedes)
  7. Alex Albon (Williams)
  8. Lando Norris (McLaren)
  9. Fernando Alonso (Aston Martin)
  10. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen: 364 punte
  2. Sergio Perez: 219 punte
  3. Fernando Alonso: 170 punte
  4. Lewis Hamilton: 164 punte
  5. Carlos Sainz: 117 punte
  6. Charles Leclerc: 111 punte
  7. George Russell: 109 punte
  8. Lando Norris: 79 punte
  9. Lance Stroll: 47 punte
  10. Pierre Gasly: 37 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull: 540 punte
  2. Mercedes: 255 punte
  3. Aston Martin: 215 punte
  4. Ferrari: 201 punte
  5. McLaren: 111 punte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Vonkprop ·

Ek wou bitter graag gehad het dat hy die rekord van 9 opeenvolgende wenne moes verbeter en die eerste 10 rondtes met Sainz het beslis vir goeie kykstof gesorg met die senuwees wat geknaag het, maar Verstappen het maar net weereens bewys hoe goed hy is. Baie geluk met die 10 in ‘n ry. Wel verdiend.

OU SAAR ·

AWESOME Max.

Ai, jy maak jou ouers seker vreeslik trots.
Fier dit nou asb deur ń ring aan daai beeldskone meisie van jou se vinger te steek…
Voor iemand anders haar wegraap.

Dana ·

Alhoewel ek nie ‘n Max fan is nie, moet ek erken dat hy ‘n briljante renjaer is.

Schalk ·

Respek mnr, miskien moet Wolff Hamilton en Russel ook n kampioen erken as hulle hom sien. Wat hier aan die gebeur is, is geskiedenis en sal heel waarskynlik nie in my leeftyd verbeter word nie. Sy kaliber is nie volop nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.