10 dood in bom wat adjunkpresident teiken

Opruimingswerk begin op die toneel waar ‘n bom Woensdag in die Afgaanse hoofstad ontplof het. (Foto: Rahmat Gul/AP)

ʼn Bomaanval in die Afgaanse hoofstad Kaboel wat die konvooi van die land se eerste adjunkpresident geteiken het, het die lewe van minstens 10 burgerlikes geëis. Tientalle ander mense is beseer, onder wie sommige van die adjunkpresident se lyfwagte, het die land se departement van binnelandse sake gesê.

Niemand het nog verantwoordelikheid vir die bomaanval aanvaar nie, hoewel die Taliban reeds enige betrokkenheid ontken het.

Adjunkpres. Amrullah Saleh het ligte brandwonde in die ontploffing opgedoen.

Saleh, ook Afganistan se voormalige intelligensiehoof, het in ʼn televisieverskyning kort na die aanval gesê hy is nie erg beseer nie. Hy het op televisie verskyn met verbande om een van sy hande.

“Ek en my jonger seun, wat saam met my was, is oukei” het Saleh gesê.

“Ek het ligte brandwonde op my gesig en hand. Ek het nie nou fynere besonderhede nie, maar ek vra om verskoning aan diegene wat geraak is of hul eiendom in die aanval verloor het.”

Saleh se woordvoerder, Razwan Murad, het die aanval as ʼn “wrede terreuraanslag” op Saleh se lewe bestempel.

Die departement sê die bom het ontplof net toe Saleh se konvooi deur ʼn gedeelte van die stad gery het waar gasbottels verkoop word. Die ontploffing het ʼn brand veroorsaak wat verskeie van die winkels beskadig het.

‘n Vroeëre foto van die Afgaanse adjunkpres. Amrullah Saleh. (Foto: Rahmat Gul/AP)

Die spoor van verwoesting was duidelik. Minstens 10 winkels het afgebrand, terwyl talle vensters versplinter en deure uit hul kosyne geruk is. Voertuie is beskadig en puin het die strate vol gelê.

Die departement se woordvoerder, Tariq Arian, het vroeër bevestig die bom het spesifiek Saleh se konvooi geteiken. Arian het aanvanklik gesê twee mense het gesterf, maar die dodetal is later tot 10 aangepas. Volgens die departement is minstens 15 mense beseer.

Taliban-woordvoerder Zabihullah Mujahid het blitsig ontken dat insurgente vir die ontploffing verantwoordelik was en dat “vandag se ontploffing in Kaboel niks met die Moedjahedien van die Islamitiese Emirate” – soos die Taliban na homself verwys – te doen het nie.

Die Taliban en die Islamitiese Staat (IS) is bedrywig in Kaboel en spanning loop hoog voor die verwagte aanvang van onderhandelings tussen ʼn amptelike Afgaanse afvaardiging en die Taliban.

Washington plaas groot druk op albei partye om die gesprekke op dreef te kry. Die VSA se vredesgesant, Zalmay Khalilzad, is in Katar, waar die Taliban ʼn politieke kantoor het, in ʼn poging om onderhandelings aan die gang te kry.

Die onderhandelings, bekend as intra-Afgaanse gesprekke, vorm deel van ʼn vredesooreenkoms wat die VSA in Februarie in Katar met die Taliban aangegaan het om ʼn einde aan Amerika se langste oorlog te probeer maak. In daardie stadium is die gesprekke gesien as Afganistan se beste kans op vrede ná dekades van konflik.

Minstens 10 mense is dood en verskeie winkels is in die ontploffing beskadig. (Foto: Rahmat Gul/AP)

Kaboel se vredesonderhandelingspan wag in die Afgaanse hoofstad om na die Kataarse hoofstad Doha vir die onderhandelings te reis, maar die vertragings is nimmereindigend. Washington, amptenare in Kaboel en die Taliban het die afgelope paar dae almal aangedui dat hulle gereed is om dadelik met die besprekings te begin.

Die ooreenkoms tussen die VSA en die Taliban beteken Amerikaanse soldate onttrek uit Afganistan. Die ontrekking van die Amerikaanse mag – waarmee reeds begin is – hang egter nie af van suksesvolle intra-Afgaanse gesprekke nie, maar eerder van die Taliban se ooreenkoms dat hy ander militante groepe soos IS sal beveg.

Die Taliban moet ook verhoed dat Afganistan gebruik word as basis van waar aanvalle op die VSA en sy bondgenote uitgevoer kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

As hy om verskoning gevra het, het hy iets hiermee te doen gehad, of is dit ‘n vertalingsfout?

Adam Adriaan

Ja die die spul baklei meer ondermekaar as wat hulle teen enige ander instansie in die wêreld sou aanval. Oral in die wêreld is die volkere magsdronk. Elkeen wil die hoof papagaai in die swerm wees