10 dood ná brand by ouetehuis

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Tien mense is dood nadat ’n brand by ’n ouetehuis in die buitewyke van Moskou in Rusland uitgebreek het. Dit volg kort nadat honderde mense ontruim moes word toe ’n brand by ’n hospitaal in Moskou ontstaan het.

Die Russiese owerhede het Maandagoggend gesê nege mense is dood en nog nege in ’n hospitaal opgeneem nadat ’n brand laat Sondagaand by ’n private ouetehuis in Krasnogorsk aan die noordwestelike rand van Moskou uitgebreek het.

Daar was ten tyde van die brand 37 mense in die ouetehuis onder wie agt personeellede.

’n Voorlopige ondersoek dui daarop dat daar ’n ontploffing van brandstofdampe in die ouetehuis se ketelkamer plaasgevind het. Dit het veroorsaak dat inwoners vergiftig is weens vrygestelde gasse tydens die ontploffing. ’n Strafsaak is aanhangig gemaak.

Dít kort nadat ’n brand vroeër die naweek uitgebreek het by ’n hospitaal in Moskou wat pasiënte vir die nuwe koronavirus behandel. Een mens het in dié brand omgekom.

Die plaaslike nooddienste het Saterdag in ’n verklaring gesê meer as 200 mense is uit die Spasokukotsky-hospitaal in die noordelike voorstede van die Russiese hoofstad ontruim nadat ’n brand in een van die hospitaalkamers op die eerste verdieping van die gebou uitgebreek het. Die brand is volgens die nooddienste vinnig geblus.

Sergei Sobyanin, die burgemeester van Moskou, het op Twitter gesê die oorsaak van die brand sal ondersoek word.

Altesaam 221 344 bevestigde gevalle van die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, is in dié stadium in Rusland aangemeld. Meer as 2 000 pasiënte in dié land is reeds daaraan dood.

Meer as die helfte van dié gevalle en sterftes is in Moskou aangemeld. Dié stad het ’n bevolking van sowat 12,7 miljoen.

Bronne: ANA, Aljazeera

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.