10-jarige sterf ná dodelike amebe in brein beland

Lily Mae Avant (10) is dood nadat die amoeba in haar brein beland het. (Foto: CBS via KWTX-TV)

ʼn Laerskoolleerder is dood nadat sy in ʼn meer geswem en ʼn breinvretende amebe opgedoen het.

Die 10-jarige Lily Mae Avant is vroeg Maandag in ʼn hospitaal in Fort Worth, Texas, in die VSA dood, het KWTX-TV berig.

Gesondheidsbeamptes glo Lily het die amebe opgedoen nadat sy gedurende die Werkersdag-naweek (Labor Day) in die Brazosrivier geswem het. Lily het verlede naweek kopsere begin kry en ʼn koors ontwikkel.

Dokters by die Cook-kinderhospitaal het vasgestel sy ly aan primêre amebiese meningoënkefalitis, ʼn skaars en dodelike senuweesiekte wat ʼn brein-infeksie deur ʼn spesifieke soort amebe veroorsaak.

“Die dokters het vir ons gesê daar is niks wat hulle verder vir haar kan doen nie. Hulle het alles probeer, maar dit is ʼn dodelike siekte wat sy slagoffers baie vinnig eis,” het Crystal Warren, Lily se tannie, aan KWTX gesê.

“Ons verstaan nie hoekom dit met haar gebeur het in dieselfde water en op dieselfde dae waarop soveel ander mense ook daar was nie.”

Lily se klasmaats by die Valley Mills Elementary School waar sy ʼn leerder was, het Vrydag twee minute stilte vir haar gehou.

Volgens die Amerikaanse sentrum vir siektebeheer het slegs vier mense uit 143 tussen 1962 en 2017 in die VSA die siekte oorleef.

Die amebe kom die liggaam deur die neus binne en beland uiteindelik in die brein. Die siekte kan nie opgedoen word wanneer jy die water sluk waarin die amebe voorkom nie.

Die spesifieke amebe wat Lily se lewe geëis het, kom in die somer algemeen in veral die suidelike Amerikaanse deelstate voor. Daar is onlangs egter ook voorvalle in sommige noordelike deelstate aangemeld.

Besmetting bly egter relatief skaars.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pray ·

My innige simpatie met haar familie en ouers…..Mag die Here julle vetroos.

Danie ·

Op die oomblik sterf 95% van mense wat hierdie siekte opdoen. Dit kom gewoonlik voor onder kinders en jong volwassenes. Maar ook (baie seldsaam) onder ander ouderdom groepe. Sterkte aan die familie.

KrokodilBotha ·

Altyd hartseer met kinders. Laat my wonder oor ons riviere, en hoe flink die munsipaliteite is. Swembaddens laat my ook skrik, ek sal nie my voet vandag in LC de Villiers se swembad sit nie.

Hannes de Jager ·

Het jy die artikel gelees? Wat het jou LC de Villiers swembad met n meer in Texas te doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.