Bykans 100 000 inwoners van die land Paraguay moes hul huise ontruim weens stygende watervlakke slegs etlike dae voor Kersfees.
Mario Ferreiro, burgemeester van die hoofstad Asuncion, het vandeesweek die vloede as ʼn “humanitêre tragedie” beskryf.
“Ons leef in tye van groot krisisse in Asuncion. Dit is die ergste vloede die afgelope 20 jaar. Dit is ʼn humanitêre tragedie op groot skaal,” het hy gesê.
Ferreiro het vroeër vandeesweek gesê daar is bykans 20 000 families wat in haglike skuilings moet bly as gevolg van die krisisse.
Volgens die sekretariaat van nasionale veiligheid en sekuriteit in Paraguay sal die water van die oorstroomde Paraguay-rivier tussen Januarie en Februarie in die nuwe jaar van die land begin wegbeweeg. Daar is egter gewaarsku dat daar duidelike tekens is dat die rivier weer in Maart sal oorstroom.
Die sekretariaat het vroeër gesê dat die watervlakke in die hoofstad ongeveer 7,61 meter hoog gemeet is, wat reeds die jongste hoogste oorstromings in 2000 (7,38 m) oorskry.
Horacio Cartes, president van Paraguay, het intussen gesê die regering moet fokus op armer families wat in laagliggende gebiede naby die riviere woon. Hy het beloof om die families te verskuif na veiliger woongebiede.
“Vir so lank as wat ons nie die huisgesinne naby die rivier verskuif nie, sal die oorstroming van huise voortgaan,” het Cartes gesê.