100 dooie katte in pensioenaris se huis gevind

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Dietmar Ludmann/Unsplash)

Sowat 100 dooie katte, asook ʼn reeks ander diere, is in ʼn pensioenaris se huis in Frankryk gevind. Dié gru-vonds is deur een van die man se familielede gemaak nadat die bejaarde man noodgedwonge hospitaal toe geneem is.

ʼn Dierebeskermingsvereniging in die suide van Frankryk is Sondag in kennis gestel van die dooie diere in die 81-jarige man se huis. Dié se susterskind het die dooie diere ontdek nadat die man in ʼn hospitaal in Nice opgeneem is.

Die meeste van die dooie katte was in verseëlde plastiek- of houthouers gestoor, terwyl daar ook oorblyfsels van eekhorings, rotte en ʼn hond se kakebeen in die huis aangetref is.

“Gegewe die posisies waarin meeste van die katte gelê het, was meeste van hulle reeds dood toe hulle in die bokse geplaas is,” het Philippe Desjacques, president van die plaaslike dierebeskermingsvereniging, gesê.

“Ons vermoed dat minstens twee van die diere wel lewend toegesluit is.”

ʼn Verminkte kat is ook op die sitkamerbank gevind. Hy was reeds gedeeltelik deur ander katte opgevreet.

Volgens Desjacques het hulle egter daarin geslaag om meer as 20 erg ondervoede katte lewend uit die huis te red. Hulle almal is aan veeartse oorhandig of in pleeghuise geplaas.

Daar word vermoed dat die bejaarde man aan ʼn kondisie genaamd Noag-sindroom ly, wat beteken dat iemand ʼn groot aantal diere versamel, maar nie in staat is om hulle te versorg nie. Mense wat aan dié sindroom ly, doen dit dikwels uit eensaamheid.

Desjacques sê die dierebeskermingsvereniging sal moontlik die man krimineel aankla vir dieremishandeling en nalatigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LD ·

Dis vreeslik en als, maar ek kan nie help om te wonder hoe die huis geruik het nie!?

Frank John ·

Ai, wonder wat gaan hier by my buur.mense aan. Het al tussen 40 en 50 katte diere vereniging toe geneem en steeds sien ek nog hordes katte. Het vrou gevra maar sy sê is nie haar katte nie. Maar hulle is oral in haar erf en gebruik my erf as toilet. Nee, iets is fout daar.

Daleen ·

Liewe Hemel….. bel dadelik die DBV. Anders kan jy ook aangekla word vir die feit dat jy stilgebly het…. Sjoe, maar die lewe raak wilder as die wilde weste….

Janee ·

Arme oompie….wou seker net maatjies hê….en vergeet toe so bietjie hoeveel daar is…

Mieke ·

Wat help dit on die man aan te kla as hy psigies ongesteld is?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.