100-jarige parkwagter tree af

Betty Soskin (Foto: NPS/Luther Bailey)

Betty Reid Soskin, die oudste aktiewe parkwagter vir die nasionale parkediens in die VSA, het uiteindelik vandeesmaand afgetree. Sy het die afgelope 15 jaar haar persoonlike ervaring en die stories van vroue gedeel wat tydens die Tweede Wêreldoorlog as vrywilligers gewerk het (die sogenaamde Home Front-werkers).

Betty het in September 2021 haar 100ste verjaarsdag gevier en op haar laaste dag ʼn program vir die publiek aangebied. Sy het ook saam met haar kollegas by die Rosie the Riveter/WWII Home Front National Historical Park in Richmond, Kalifornië, gekuier.

“Dit was ongelooflik om deel te kon wees van die plek waar ʼn dramatiese trajek in my eie lewe, saam met ander van my generasie, die toekoms sal beïnvloed deur die voetspore wat ons agtergelaat het,” het Betty gesê.

Betty is in 2011 as ʼn voltydse NPS-werknemer aangestel en het aan die hoof gestaan van publieke programme waar sy haar persoonlike herinneringe en waarnemings by die besoekersentrum gedeel het.

“Betty het ʼn besonderse impak gehad op die nasionale parkediens en hoe ons ons missie uitvoer,” sê Chuck Sams, direkteur van NPS, in ʼn verklaring. “Ek is dankbaar vir haar lewenslange toewyding om haar storie te deel en wens haar alles van die beste toe in haar aftrede. Haar werk herinner ons daaraan dat ons alle perspektiewe moet ondersoek sodat ons ʼn volledige en inklusiewe geskiedenis van ons land kan uitbeeld. Geluk, Betty!”

Betty Soskin (Foto: NPS/Luther Bailey)

Voor sy by die NPS aangesluit het, het Soskin deelgeneem aan vergaderings met die stadsraad van Richmond en die NPS om ʼn algemene bestuursplan saam te stel vir die Rosie the Riveter-park. Sy het saam met die NPS gewerk om seker te maak Afro-Amerikaners wat op die Home Front gewerk het, se stories word vir die eerste keer vertel. Dit het tot ʼn tydelike aanstelling by die NPS gewerk toe sy 84 jaar oud was.

“Om ʼn primêre bron te wees en dié deel van daardie geskiedenis te vertel – my geskiedenis – en seker te maak dat dit vorm gee aan ʼn nuwe nasionale park, was opwindend en bevredigend. Dit het my laaste jare betekenisvol gemaak,” het Betty bygevoeg.

Naomi Torres, waarnemende superintendent van die Rosie the Riveter/WWII Home Front National Historical Park, sê die NPS is dankbaar dat Betty haar gedagtes en persoonlike belewenisse kon deel op ʼn manier wat oor generasies heen sal strek. “Sy het storie van haar lewe op die Home Front gebruik, en betekenis daarin gevind om seker te maak daardie geskiedenis het ʼn werklike impak op ons vandag.”

Klik hier om meer oor Betty se storie te lees en kyk een van haar programme.

Soskin is in 1995 ook as Vrou van die Jaar in Kalifornië aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sandra

Dit wil gedoen wees. 100 jaar oud en dra nog lipstiffie. Ek moet ‘n blaadjie uit die vrou se boekie neem.

Herman

Oud word is nie vir sissies nie!

Byekonfyt

Dame met oemf!

Mieke

Sy lyk steeds so op en wakker!! En sy tree op 100jr eers af!! Ek dink dis belangrik om jou hele lewe tog maar besig te bly indien moontlik! Ek sê al lankal dat ek beslis nooit gaan aftree nie!!