100 miljoen in Indië in pad van sikloon

Die Indiese lugmag maak gereed vir sikloon Fani, wat die land na verwagting binne ure gaan tref. (Foto: Indiese lugmag, via Twitter)

Indië gebruik bote en treine om nagenoeg 800 000 mense langs sy ooskus te ontruim in afwagting van sikloon Fani wat die land na verwagting binne ure gaan tref, berig die Indiese Khaleej Times.

Nagenoeg 100 miljoen mense woon in gebiede wat na verwagting deur Fani geraak gaan word.

Sikloon Fani, ʼn kategorie 4-sikloon, is op pad na die staat Orissa, met ʼn windspoed van tot 200 km/h. Die BBC berig amptenare het twee groot hawens aan die ooskus gesluit en duisende reddingswerkers is ontplooi om mense uit laagliggende gebiede te help ontruim. Die state Andhra Pradesh en Tamil Nadu is op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas.

Minstens 11 distrikte is in die pad van die sikloon en die weerdiens het mense aangeraai om binnenshuis te bly. Indië se rampbestuursowerheid het mense langs die ooskus, veral vissermanne, gevra om uit die see te bly. Die regering het toeriste ook gevra om kusdorpe in Wes-Bengale en Odisha te verlaat.

Die Indiese lugmag maak gereed vir sikloon Fani, wat die land na verwagting binne ure gaan tref. (Foto: Indiese lugmag, via Twitter)

Noodlenigingsgroepe het in Februarie al bokseile ter voorbereiding van die land se sogenaamde sikloonseisoen begin versprei, maar het gewaarsku as ʼn dodelike storm tref, gaan skuilings wat uit lendelam bamboes en stukke plastiek bestaan, nie veel beskerming bied nie.

Volgens die BBC het Indië al 850 skuilings opgerig wat nagenoeg ʼn miljoen mense kan huisves. Mense word onder meer in sikloonskuilings, veilige skole en kollegegeboue gehuisves. Die vloot, die kuswag en die land se nasionale rampreaksiemag is op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas.

Time berig sikloon Fani is moontlik die sterkste storm wat Indië se ooskus tref sedert storm Hudhud, wat 124 lewens geëis het toe dit dié land in Oktober 2014 getref het. Fani is boonop die sterkste storm wat die afgelope 43 jaar in April gevorm het – kwaai siklone tref Indië meestal teen die einde van die jaar.

Die Baai van Bengale aan die land se ooskus het ʼn geskiedenis van dodelike tropiese storms. Meer as 10 000 mense is dood toe ʼn supersikloon die distrik Odisha in 1999 getref het.

Kyk hier na AccuWeather se video van sikloon Fani.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

IK ·

Ten minste soos in Amerika is hulle voorberei en sit nie en toekyk.

Attie. ·

Dit is onheilspellend duidelik dat ons in die laaste tyd leef. Die natuur is besig om die mensdom terug te kry vir dit wat die mens aan die natuur gedoen het. Ons kan planne maak soos ons wil. In my oupa se lewe was die stoomengin vervolmaak. My pa het op skool nog nie ‘n dakota gesien nie maar later in sy lewe het hy in boeiings gevlieg. In my lewe is die turbodieselengin vervolmaak en my seun gaan die vervolmaking van die batterymotors sien, as die aarde nog so lank sy las sal kan dra. Ek glo Jesus se tweede koms sal wees binne 10 jaar, ons sien reeds die voorspel. Kyk mooi…die vyeboom bot.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.