100 sterf in vuurwerkbrand by tempel

Brand by Kerala-tempel op 10 April 2016 (Foto: @thenewsminute, Twitter)

Brand by Kerala-tempel op 10 April 2016 (Foto: @thenewsminute, Twitter)

Minstens 100 persone is Sondag dood en 200 beseer toe ʼn groot brand tydens ʼn vuurwerkvertoning by ʼn tempel in die suide van Indië uitgebreek het.

Die brand het ontstaan toe ʼn vonk van ʼn vuurwerk ander vuurwerke aan die brand gesteek het wat by die Puttingal-tempel in Paravoor, Kerala geberg is, het Ramesh Chnnitala, minister van binnelandse sake, gesê.

Duisende persone was in die tempel toe die groot ontploffing omstreeks 03:00 plaasgevind het, het beamptes gesê. Die brand het vinnig deur die tempel versprei en aanbidders was in die gebou vasgekeer.

ʼn Polisiebeampte van Kerala wat anoniem wou bly omdat hy nie gemagtig is om met verslaggewers te praat nie, het gesê minstens 84 persone is dood. Die plaaslike televisiekanaal NDTV het egter intussen bevestig die dodetal het tot minstens 100 gestyg.

Plaaslike televisiekanale het beeldmateriaal uitgesaai van groot wolke wit rook wat uit die tempel borrel, terwyl vuurwerke steeds in die donker nag afgegaan het. Groot stukke beton het tot ʼn kilometer ver deur die lug getrek toe die vuurwerke, wat gestoor is, afgegaan het, volgens ʼn inwoner, Jayashree Harikrishnan. Sy het gesê van die stukke het in hul erf geland.

Beamptes het bevestig die brand is reeds onder beheer gebring. Reddingsbeamptes soek deur die puin na oorlewendes en grondverskuiwingsmasjiene word gebruik om die puin skoon te maak. Beseerde persone word met ambulanse na nabygeleë hospitale geneem.

ʼn Mededingende vuurwerkvertoning word jaarliks by die tempel gehou en verskillende groepe hou vuurwerkvertonings vir duisende aanbidders. Die kompetisie vind op die laaste dag van ʼn sewe dag lange fees plaas wat die godin Bhadrakali vereer, ʼn suidelike Indiese inkarnasie van die Hindu-godin Kali.

Die kompetisie het hierdie jaar sonder toestemming plaasgevind, nadat die staat se hooggeregshof mededingende vuurwerkvertonings by tempels verbied het.

Shibu Baby John, minister van arbeid, het gesê die voorval word ondersoek en die slagoffers sal vergoed word.

-Associated Press-skrywers Nirmala George en Katy Daigle in New Delhi het bygedra tot hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Die oumense was reg dat met vuurhoutjies speel maak jy die bed nat.
Wonder wat sou hulle sê van met vuurwerke speel . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.