11 babas sterf in hospitaalbrand

Die Mame Abdou Aziz Sy Dabakh-hospitaal in Senegal. (Foto: Seyllou/AFP)

Altesame 11 pasgebore babas is Woensdag in ʼn hospitaal in die stad Tivaouane in Senegal in Wes-Afrika dood, nadat die fasiliteit se neonatale-afdeling aan die brand geraak het. Slegs drie babas is uit die brand gered.

Macky Sall, president van Senegal, het die hartseer nuus net voor middernag op Twitter gedeel.

“Ek het pas met groot pyn en ontsteltenis verneem dat 11 babas in ʼn brand by ʼn openbare hospitaal dood is,” het Sall getwiet.

“Aan hul ma’s en families betuig ek my innige simpatie.”

Die tragedie het by die Mame Abdou Aziz Sy Dabakh-hospitaal plaasgevind en is glo deur ʼn kortsluiting veroorsaak.

“Die brand het baie vinnig versprei,” het die politikus Diop Sy gesê.

Volgens plaaslike media is dié hospitaal onlangs opgeknap.

Abdoulaye Diouf Sarr, minister van gesondheid, wat tydens die voorval in Genève was vir ʼn vergadering met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), het gesê hy gaan dadelik na Senegal terugkeer.

“Hierdie is ʼn baie betreurenswaardige en pynlike situasie,” het hy tydens ʼn radio-onderhoud gesê. “ʼn Ondersoek is reeds van stapel gestuur om vas te stel wat gebeur het.”

Die jongste tragedie volg ná ʼn string noodlottige voorvalle by openbare gesondheidsfasiliteite in Senegal.

In April het ʼn brand by ʼn hospitaal in die dorp Linguere uitgebreek wat die lewe van vier pasgebore babas geëis het. Die burgemeester op dié dorp het gesê ʼn elektriese fout in ʼn lugversorgingseenheid in die kraamsaal was die rede vir die brand.

Die voorval Woensdag kom ook meer as ʼn maand nadat ʼn swanger vrou tevergeefs by ʼn hospitaal gewag het op ʼn keisersnee. Die vrou het in pyn by ʼn hospitaal in Louga aangekom, waar die personeel geweier het om aan haar versoek vir ʼn keisersnee te voldoen omdat dit nie vir daardie dag geskeduleer was nie.

Sy is op 1 April dood, 20 uur nadat sy by die hospitaal aangekom het.

Dié vrou se dood het tot ʼn vlaag van verontwaardiging regoor die land gelei oor die haglike toestande van Senegal se openbare gesondheidstelsel. Sarr het eindelik, twee weke ná haar dood, erken dat hierdie tragedie vermy kon word.

Drie vroedvroue wat aan diens was toe die swanger vrou gesterf het, is op 11 Mei deur die Lougas-hooggeregshof tot ses maande opgeskorte tronkstraf gevonnis weens hul “versuim om ʼn persoon wat in gevaar is, by te staan”.

Ná die dood van die vier babas in Linguere het Seydi Gassama, Amnestie Internasionaal se direkteur in Senegal, gevra vir ʼn inspeksie en opgradering van die neonatale dienste in hospitale regoor Senegal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Swerwer ·

Wel ons openbare Gesondheidstelsel is kort op die hakke van Senegal. Maar net weer ‘n bewys dat dit oral in Afrika lande so gaan waar die wesens aan bewind is.

Die Boerepompie ·

Aai mens kan ons huur uit leer.So dat so ramp ons nie tref nie

domheks ·

SA is vinnig oppad na Senegal. Maar wie gee om? Nie ons kaders nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.