11 dood in aanval op sinagoge

Robert Bowers het na bewering 11 mense in ’n sinagoge in Pittsburgh doodgeskiet. Foto: Twitter

Die dodetal in die skietaanval op ʼn Amerikaanse sinagoge is amptelik op 11 vasgestel.

Die aanvaller het Saterdagoggend losgebrand in die Tree of Life-sinagoge in die oorwegend Joodse woonbuurt Squirrel Hill in Pittsburgh, Pennsilvanië, sowat ʼn kwartier nadat die Sabbatdiens om 09:45 (plaaslike tyd) begin het, berig die BBC.

Die verdagte, wat amptelik as die 46-jarige Robert Bowers uitgeken is, is in die skietery met die polisie beseer en kry behandeling. Volgens beamptes verkeer twee mense in ʼn kritieke toestand in die hospitaal.

“Ons glo dit is die dodelikste aanval op die Joodse gemeenskap in die geskiedenis van die Verenigde State,” het die Anti-Defamation League, ʼn Joodse nieregeringsorganisasie wat anti-Semitisme bestry, gesê.

Bowers het na bewering anti-Joodse uitlatings gemaak nadat hy aangekeer is, het ʼn wetstoepasser aan CNN gesê.

Die Tree of Life-sinagoge in Pittsburg. Foto: Google Maps

Beamptes het gistermiddag op ʼn nuuskonferensie gesê die verdagte het sowat 20 minute in die sinagoge, waar drie dienste gelyktydig aan die gang was, deurgebring voor hy losgebrand het.

Ná die aanval het hy die gebou verlaat en ʼn wetstoepasser teëgekom, waarna die twee op mekaar geskiet het. Hy het terug in die sinagoge gegaan, waar hy aangekeer is.

Bowers was Saterdagaand in ʼn redelike toestand ten spyte van etlike skietwonde wat hy opgedoen het.

Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, het sy meegevoel met die naasbestaandes van die slagoffers betuig terwyl die minister van die diaspora, Naftali Bennett, getwiet het hy “vlieg Pittsburgh toe om by ons susters en broers in hul donkerste uur te wees”, berig The Guardian.

Die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes sê in ʼn Facebook-inskrywing die nuus het hulle geskok. “Ons treur saam met die naasbestaandes van die slagoffers en ook saam met die Amerikaanse volk. Ons bid vir die beseerdes. Die raad veroordeel hierdie gruwelike daad van terreur.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Simpatiek ·

Dink vir ‘n oomblik nie aan Suid-Afrika nie en wees simpatiek teenoor wat in die VSA gebeur het asb.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.