11-jarige oorleef bloedbad in ouerhuis

Bryan Riley het die afgelope naweek vier mense in Florida doodgeskiet. (Foto: Fox 13 Tampa Bay)

ʼn 11-jarige meisie van Florida in die VSA het Sondag ʼn massaskietaanval in haar ouerhuis oorleef toe sy gemaak het asof sy reeds dood is.

Luidens internasionale berigte is die meisie se pa, Justice Gleason (40), sy lewensmaat, Theresa Lanham (33), die paartjie se drie maande oue babaseun en die seuntjie se ouma, Catherine Delgado (62), tydens die voorval doodgeskiet. Die 11-jarige, wie se identiteit nie bekend is nie, is ook raakgeskiet.

Die babatjie was steeds in Lanham se arms toe hulle vermoor is. Die gesin se hond is ook doodgeskiet.

Bryan Riley (33), wat voorheen in Afghanistan en Irak gedien het, is later in ʼn skietgeveg met die polisie gewond, het Maroela Media Maandag berig. Hy is ʼn veteraan van die Amerikaanse vloot en word tans sonder borgtog aangehou.

CBS News berig die meisie het aan polisiebeamptes gesê sy glo die feit dat sy gebid en gemaak het asof sy dood is, het haar lewe gered.

Sy sterk tans in ʼn hospitaal in Tampa aan en moes glo verskeie operasies ondergaan om haar beserings te behandel.

Luidens ʼn familieverklaring is sy egter wakker en is haar gemoedstoestand goed.

Sover dit bekend is, het Riley geen verbintenis met die gesin gehad nie.

Die gesin het die polisie egter nege uur vóór die skietery ontbied, nadat Riley by hul huis opgedaag en beweer het dat hy deur “God gestuur is om ʼn selfmoord deur iemand met die naam Amber te verhoed”.

Gleason het Riley glo tydens dié bisarre ontmoeting verwittig daar woon niemand met die naam Amber nie, en hom gevra om die eiendom te verlaat.

Volgens beamptes van die Polk County-polisiestasie het Gleason 911 gebel, waarna beamptes die gebied deursoek het. Riley was egter nêrens te vind nie.

Riley het sowat 16:30 na die gesin se woonplek teruggekeer en glimstokkies al langs die paadjie wat na die huis lei, gepak.

Luidens berigte is nagenoeg 40 skote in vier kort sarsies afgevuur.

ʼn Polisiebeampte wat die skote gehoor het, het hulp ontbied.

Riley, in kamoefleerdrag, was steeds op die toneel met die polisie se aankoms en het hom ná ʼn hewige oor-en-weer-skietery aan die polisie oorgegee.

Na bewering was hy nie gewapen toe hy uit die huis gestap het nie en was sy bakkie in ligte laaie.

Owerhede sê die motief vir die moorde is nie in dié stadium bekend nie, hoewel Riley met sy inhegtenisneming aan die polisie gesê het: “Julle weet hoekom ek dit gedoen het.”

Grady Judd, Polk County se polisiehoof, sê die misdaadtoneel sal hom vir altyd bybly.

“Ek sal nooit vergeet hoe die ma haar baba in haar arms vasgehou het nie.”

Volgens hom is Riley in wese “boos”.

“Sielkundige probleme beteken nie dat jy nie strafregtelik verantwoordbaar is nie.”

Sy meisie het glo aan owerhede gesê dat Riley nog nooit gewelddadig was nie, maar wel die afgelope tyd toenemend vreemd en wispelturig opgetree het.

Volgens Judd het Riley reeds skuld op die moorde beken. Hy het nie ʼn vorige misdaadrekord nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hasie ·

My God sal nie iemand stuur om onskuldiges dood te maak nie sou hy dit self gedoen het .Hy is nie boos nie , dink eerder die duiwel het aandeel hieraan

Vicky ·

Maar in die BYBEL was Moses en vele ander opdrag gegee om vrouens,mans en kinders dood te maak?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.