11-jarige pleeg selfmoord ná ‘poets’

Tysen Benz

Tysen Benz, ʼn 11-jarige seun van Michigan in die VSA, is Dinsdag begrawe nadat hy in Maart vanjaar selfmoord probeer pleeg het weens vals berigte.

Hy was drie weke in die hospitaal voor hy op 4 April oorlede is. Benz het sy eie lewe probeer neem deur homself te hang nadat hy boodskappe gekry het wat hom laat glo het sy meisie het selfmoord gepleeg.

“Sy het een van haar vriende se sosialemedia-rekeninge gebruik om die situasie eg te laat lyk. Hy was so onskuldig, so goedhartig en so naïef dat hy haar heeltemal geglo en sy eie lewe geneem het,” vertel sy ma, Katherine Goss.

Goss het omstreeks 22:00 opgemerk haar seun is nie in sy bed in hul huis in Marquette nie. Sy het gedink hy maak dalk ʼn grappie. “Ek het hom in die kas gevind. Ek wou gou maak en het hom opgetel. Ek het geskree. Ek het my oudste seun gevra om die nooddienste te bel. My jongste kind het gehuil.”

Matt Wiese, ʼn staatsaanklaer in Marquette, het gesê die meisie is intussen aangekla omdat sy kommunikasiedienste misbruik en valse berigte uitgestuur het. Vanweë haar ouderdom mag die meisie se identiteit nie bekend gemaak word nie.

Benz het nooit vir sy ma vertel dat hy ʼn meisie het nie. “Hy het nie my toestemming gehad om in ʼn verhouding te wees nie, want hy het geweet ek keur nie ʼn verhouding op daardie ouderdom goed nie,” sê Goss.

“Hy was heeltemal gelukkig. Daar was geen ander hartseer in sy lewe nie en hy het baie vriende gehad.” Volgens Goss was haar seun onbaatsugtig.

ʼn Skarefinansieringswebwerf is vir die gesin begin en meer as $40 000 (ongeveer R550 000) is reeds ingesamel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

33 Kommentare

Danie ·

Baie hartseer. Sterkte vir die gesin. Hoekom word kinders toegelaat (en soms gedwing) om goed te doen waarvoor hulle nog nie toerus is nie? Laat hulle eers kind wees en dan groot. Nie anders om nie.

JC ·

Dis belaglik en mal, definitief ‘n simptoom van ‘n siek, siek wereld.

AL ·

Ai kinders moet leer om te dink en verantwoordelikheid neem vir hul dade. Dis n siek grap en moes in die eerste plek nie gebeur het nie.

Veritas ·

Al, geen kind kan verantwoordelik gehou word op so’n jong ouderdom nie. Die seun is 11 jaar oud so ek neem aan die meisie is ook. Of dalk nog jonger. Ek glo nie kinders op so jong ouderdom moet belas word met sulke traumatiese gebeure nie maar om jou eie (jong) lewe te neem as ‘n maatjie doodgaan is onnatuurlilk. Die seun was óf baie sensitief óf ongebalanseerd óf het regtig gevoel dat hy nie sonder haar kan lewe nie. Kinders word vandag te veel blootgestel aan dinge waarvoor hulle nog nie ryp genoeg is nie. My raad aan ouers is om hul jongspan so lank as moontlik kinders te hou. Nogtans ‘n hartseer verhaal. My hart bloei vir die meisie wat vir die res van haar lewe met ‘n skuldgevoel gaan rondloop.

Stellie ·

Goeie genade. Hy is klein genoeg dat mamma hom kon optel. Die arme arme mense. Dit is so aaklig.

Liza ·

Liewe hemel wat ‘n siek klomp kinders…….mens doen nie sulke dinge nie, en ja Veritas ek stem saam met jou……..maar my magtig mens maak nie sulke grappe nie……Sterkte aan die familie en vriende….

JC ·

Presies Liza, ‘n siek klomp snotkinders wat hul besig hou met belaglikhede.
Wat weet kinders van hulle ouderdom nou eintlik van die dood.

Bubbels ·

Ek het ‘n seun van 10jaar oud en dood is iets wat hulle nou eers begin verstaan… Om op so jong ouderdom so “prank” te speel is skokkend… Dan praat ek nie eers van so ernstige “verhouding” op so jong ouderdom nie… Maar dis die wêreld wat ons in leef deesdae.. kinders weet te veel te gou en dis NIE tot hulle voordeel nie.

Die dood ·

Teen 10 verstaan hulle die dood te goed, al lank al. Begin al die dood verstaan rondomby 6,7 al.

Bubbels ·

My 3 kinders het hulle pa aan die dood afgestaan… Ek weet waarvan ek praat.. Da is ‘n verskil tussen weet wat dood is en die werklikheid daarvan verstaan.

JC ·

Nee wat my ou, nou praat jy ‘n onwaarheid; hulle verstaan niks daarvan nie, al dink hulle so.

Dr Eon Sonnekus ·

Mens sou graag meer van die dogter wou weet. Erg manipulerend om hierin te kon slaag. Groot tragedie en les.

oumie ·

Ek dink ok hier sit baie meer agter die storie iemand anders wat boodskap van sy foon afgestuur het en nou pak hy skuld op die meisie want hy het sy gaai afgeskrik en nou kies hy of sy die easy way out

Liesl ·

Wat is fout met die meisiekind dat sy so iets aakligs op so ‘n jong ouderdom doen? Manipulerende, psigopatiese neigings. Hopelik kan sy en haar ouers op ‘n manier verantwoordelik gehou word.

Vaal ·

Daai meisie se kop raas. Watse perverse satisfaksie sou sy uit so ‘poets’ wou kry?

JC ·

Die seuna het belaglik gereageer, soos hy ook gemanipuleer is.
Wat weet HY van die liefde en dood? belaglik!

weer ek ·

Wat soek sulke jong kinders in die eerste plek met sosialemedia-rekeninge?? En dit heel duidelik sonder enige ouer toesig…

Sl ·

Ek stem! Dis belaglik.dat sulke jog kinders al op sosiale media (wat glad nie sosiaal is nie!) is. Tragies.

Ingrid ·

As die meisie slim genoeg was om so iets te doen dan is sy slim genoeg om te boet vir haar dade. My kind is n tiener en ek is amper elke dag geskok oor wat hulle nou al weet en doen. Jy kan net jou beste doen maar jy kan nie keer wat hulle by maats leer nie. My hart breek vir die seun se ouers, dit kon my kind gewees het.

carretjies ·

Die meisie gaan vir die res van haar lewe met haar gewete sit. Dis bitter hartseer dat sulke goed met kinders gebeur. Ai

Danie ·

Hoekom kon die seun nie sy gevoelens teenoor sy ma in openbaar nie?

Daar is duidelik ‘n muur tussen ma en kind so groot dat die dood nie die muur kan oorkom nie. Ouers besef nie altyd waarmee hulle besig is nie en dan dink hulle hulle maak hulle kinders gedissiplineerd en verantwoordelik groot. Maar daar is soveel dieper dinge wat hulle mis. ‘n Kind moet geleer word dat dit reg is om jou gevoelens te openbaar wanneer hulle depressief voel. Die kommetaar skok my want hoeveel mense besef dit. Skokkend.

Ange ·

Kinders vandag word blootgestel aan dinge wat ons ouer generasie eers baaaaaie later geleer het. Ek hou ouers gedeeltelik verantwoordelik. Hulle gee hulle kinders smartphones met Internet toegang. En al weerhou hulle dit van hulle kinders, sien hulle kinders dit by maatjies wat wel toegang het agv hulle ouers. Wat van die PlayStation games? Ouers koop net en kyk nie na die ouderdoms beperking nie en en daai games is skokkend. Selfs kinderprente is nie meer onskuldig nie, kyk wat het Disney met die Beauty and the Beast movie aangevang en die liberale Juig oor dit. En dan wonder almal wat gaan aan met die kinders?

Baie hartseer storie. Rus in vrede kleintjie. Ai.

Sweety ·

Dis n prang wat skeef geloop het, baie jare terug het die kinders vir my in die koshuis gesê my ouers is dood in n motorongeluk, was amper van my kop af en nee ek wou nie selfmoord pleeg nie

Blom ·

In my beroep sien ek elke dag dat groepsdruk ouers se grootste vyand geword het. Kinders wil in tel wees by hulle vriende meer as ooit. Ouers moet ook weer hulle kind se ouer word en nie hulle kinders se vriende probeer wees nie, soos ek baie keer sien is die geval deesdae. Sommige ouers wil die rol van die gewilde ouer vertolk en laat dan te veel toe. Ek dink beide die kinders is te veel toegelaat op ‘n jong te ouderdom.

Spook ·

Ai, ek dink kinders op daardie ouderdom moet nie op sosiale media wees nie, die lewe is te siek daarvoor, mense is te siek en kinders word blootgestel aan goed waarvoor hulle emosioneel nie reg is nie. ouers wil hul kinders te vinnig groot en volwasse kry, kinders moet kinders wees. Kinders moet op dasrdie ouderdom nog in die moeilikheid kom omrede hulle jou huis vol modder hardloop. My Hart is stukkend na die berig. Sterkte mensdom… Dit is julle eind produk. Geluk..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.