11 kerkgangers sterf in Zim-stormloop

Walter Magaya Foto: PHD Ministries, Facebook

Walter Magaya Foto: PHD Ministries, Facebook

Elf mense is Vrydagoggend tydens ʼn stormloop dood by ʼn kruistog wat vir ʼn gewilde profeet in Kwekwe in sentraal Zimbabwe gehou is.

Minstens 40 mense is glo beseer toe die polisie traangas gevuur het toe die skare van ongeveer 15 000 mense die stadion omstreeks 02:00 wou verlaat.

ʼn Swanger vrou en drie kinders is ook onder die slagoffers wat noodlottige beserings opgedoen het. Beamptes van die kerk het gesê die dodetal kan moontlik styg.

Beamptes het glo die uitgange van die stadion versper en slegs een uitgang vir die duisende mense beskikbaar gestel. Om die druk te verlig het die skare teen een van die mure aan die westelike kant van die stadion begin druk. Foto’s op sosiale media wys dat die muur by die Mbizo-stadion in die klein myndorpie ineengestort het.

Pastoor Walter Magaya van die Prophetic Healing and Deliverance (PHD)-bedieninge, het aan die Zimbabwiese tydskrif H-Metro gesê hy is baie geskok. “Ek het reeds die stadion verlaat toe ek die nuus ontvang het dat daar ʼn oproer was. Binne minute is ek in kennis gestel dat agt mense gesterf het. Ek het na die stadion teruggejaag en dit was die hartseerste oomblik van my lewe. Ek het intussen verneem nog drie mense is dood.”

Zenzele Ndebele, redakteur van die onafhanklike Radio Dialogue in Bulawayo, het op Twitter geskryf: “Ek verstaan nie waarom die polisie die uitgange sal versper en dan onskuldige mense met traangas sal bestook nie.”

Dit is die tweede voorval in minder as ʼn maand waar polisiebeamptes met traangas op ʼn groep mense in ʼn geslote ruimte losbrand. ʼn Aantal mense is op 8 November tydens ʼn danskompetisie in Harare beseer toe die polisie met traangas op aanhangers van twee kompeterende dansers losgebrand het.

“Iemand moet asseblief iets aan hierdie oorywerige Zimbabwe-polisiebeamptes doen,” het die Twitter-gebruiker @waltseth geskryf.

Die polisie het die jongste voorval bevestig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.