11 ‘militante’ doodgeskiet ná dodelike moskee-aanval

Beseerde mense word ontruim vanaf die toneel van ʼn aanval op ʼn moskee in Bir al-Abed, wes van die stad El Arisj, in Egipte (24 November 2017). Foto: AP

Egiptiese veiligheidsdienste het 11 vermeende militante in ʼn skietgeveg naby Sinai doodgeskiet, enkele dae nadat meer as 300 mense dood is in ʼn aanval op ʼn moskee in Noord-Sinai.

Die Egiptiese ministerie van binnelandse sake het bevestig die weermag het ʼn vermoedelike militante-wegkruipplek aangeval in ʼn gebied op die grens van die provinsie Ismalia. Volgens die ministerie het ʼn skietgeveg tussen die weermag en militante uitgebreek.

Verlede Vrydag het 305 besoekers aan ʼn moskee, onder wie 27 kinders, gesterf toe skieters, vermoedelik deel van ʼn plaaslike affiliasie van die Islamitiese Staat (Isis), op ʼn moskee toegeslaan het. Die aanval was die dodelikste van sy soort op Egiptiese burgers in die onlangse geskiedenis. Byna 130 mense is in die aanval gewond.

Tussen 20 en 30 aanvallers wat Isis-vlae by hulle gehad het, het ploftoestelle in die moskee en onder aanbidders se motors laat ontplof voordat hulle op mense losgebrand het. Die skieters het ook op ambulanse geskiet wat die beseerdes na hospitale gehaas het.

Ses vermeende militante is ná die dodelike aanval in hegtenis geneem nadat die Egiptiese weermag ʼn voortgesette militêre veldtog teen insypelaars op die Sinai-skiereiland, asook in die hoofstad, Kaïro, van stapel gestuur het.

Egipte veg al jare lank teen ʼn dodelike insypeling van Islamitiese ekstremiste, maar die stryd het ʼn hoogtepunt bereik ná die omverwerping van die land se eerste demokraties-verkose president, Mohamed Morsi, leier van die Moslem-broederskap, in 2013.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Oom Koos ·

Ek kan verstaan dat Moslems Jode en Christene aanval, maar waarom val hulle dan hier ander Moslems aan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.