11 miljoen hektaar reënwoud vernietig

‘n Boot vaar op die Jururarivier in Carauari, in die hartjie van die Brasiliese Amasone. (Foto: Florence Goisnard/AFP)

Sowat 11,1 miljoen ha van tropiese reënwoude het verlede jaar wêreldwyd afgebrand of is afgekap. Dit is omtrent ses keer die oppervlakte van die Gauteng-provinsie.

Volgens jaarlikse navorsing deur Global Forest Watch, die World Resources Institute en die Universiteit van Maryland, is 3,75 miljoen hektaar van die algehele gebied wat verlore gegaan het, in ou primêre woude geleë. Primêre woude is woude waar daar nie menslike ingryping is nie en die woud heeltemal natuurlik tot stand gekom het.

Navorsers het bereken dat die verlies van tropiese primêre woude in 2021 gelei het tot die vrystelling van 2,5 gigaton koolstofdioksied in die atmosfeer, gelykstaande aan die jaarlikse fossielbrandstofvrystellings in Indië.

Meer as 40% van die algehele tropiese primêre woude wat in 2021 verlore gegaan het, is in Brasilië aangemeld, waar sowat 1,5 miljoen hektaar afgekap of verbrand is. Sowat ʼn derde van die wêreld se primêre reënwoude is in Brasilië geleë.

Die bekende Amasone-reënwoud is in Brasilië geleë en is volgens navorsers nader aan ʼn “kantelpunt” as wat hulle vroeër gedink het.

Byna 500 000 hektaar se woude het in die Demokratiese Republiek van die Kongo verlore gegaan, gevolg deur Bolivië, waar 300 000 hektaar vernietig is.

Hoewel die jongste verslag ʼn effense algehele vermindering van 11% in die tempo van primêre tropiese woudverlies toon, waarsku navorsers dat dié koers steeds baie hoog is.

Woude wat verlore gaan weens grondopruiming vir landbou het verlede jaar met 9% gestyg, vergeleke met 2020.

Buiten die tropiese woude, het die verslag ook getoon dat woude in die Noordelike Halfrond die grootste woudvernietiging in twee dekades gely het.

In ʼn ongekende brandseisoen het Rusland nagenoeg 6,5 miljoen hektaar bosbedekking in 2021 verloor, die hoogste ooit.

Altesaam 141 wêreldleiers het hulle verlede jaar by die COP-klimaatsveranderingberaad in Glasgow daartoe verbind om teen 2030 ʼn stokkie voor woudvernietiging te steek.

Volgens navorsers sal dié doelwit slegs bereik word indien daar ʼn konsekwente en beduidende daling in die jaarlikse tempo van primêre woudverlies vir die res van die dekade is.

Klimaatsverandering maak dit egter moeiliker om dié oorblywende woude in stand te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Karel Kobus Kruger ·

Te veel mense. Hopeloos te veel. Wil mense nie maar sonder kinders bly nie? Goed vir die natuur en jou finansies.

Henri ·

Aan die eenkant bou die mens kragstasies wat koolstofdioksied vrystel en aan die anderkant kap die mens die woude uit wat juis die koolstofdioksied sou kon verwerk. Die gemene oorsaak van die probleem? Die mens. Soos Swagger se kommentaar sê, die mens is hopeloos te veel.

Kokerboom ·

Die aarde is ‘n absoluut wonderlike plek net jammer daar is siek mense daarop

De Villiers ·

Hoeveel hektaar woud is aangeplant teenoor wat afgekap is?

PieterJ ·

Nou dit is ‘n regte ramp!!! Vergeet van die covid-verkoue en maak eerdfer ‘n groooot internasionale bohaai hoeroor.

Pietertjie ·

Die vernietiging van die aarde sal voortstu solank die mensdom onbeheers voortplant. Dalk het die sg onsigare magte ‘n punt beet met hulle depopulasie-planne.

JM ·

Die mens, wat veronderstel is om die kroon van die skepping te wees, is die grootste vernietiger van hierdie skepping. Hoe tragies!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.