11 miljoen in China weer ingeperk

‘n Vrou word Woensdag in Shijiazhuang vir Covid-19 getoets. (Foto: STR / CNS / AFP / China OUT)

’n Chinese stad met ’n bevolking van sowat 11 miljoen is weer ingeperk in ’n poging om die land se grootste Covid-19-uitbreking in maande te stuit terwyl Japan intussen ’n noodtoestand verklaar het.

Ongeveer 100 nuwe bevestigde gevalle van die koronavirus is die afgelope week in Shijiazhuang in China se Hebei-provinsie aangemeld. Shijiazhuang is meer as 200 km suidwes van Beijing geleë.

Alle voertuie en inwoners word verbied om die stad te verlaat en treindienste is opgeskort, het die stad se owerhede Donderdagaand aangekondig.

Die Hebei-provinsie het Vrydag 33 nuwe Covid-19-gevalle aangemeld benewens die 51 gevalle van die vorige dag wat die daaglikse nuwe gevalle landwyd tot sy hoogste syfer in vyf maande laat styg het.

‘n Polisiebeampte stap Donderdag in ‘n leë treinstasie in Shijiazhaung. (Foto: STR / CNS / AFP / China OUT)

Die oorgrote meerderheid van dié gevalle is in Shijiazhuang aangemeld.

Die stad se skole is intussen gesluit en massatoetsing word onder inwoners uitgevoer. Meer as 670 000 inwoners is vanaf Donderdagoggend vir Covid-19 getoets.

Drie amptenare van die stad se Gaocheng-distrik wat tans die ergste getref word, is gedissiplineer oor skynbare nalatigheid in die beheer van die virus.

Japan het intussen ’n maandlange noodtoestand in Tokio verklaar nadat byna 2 500 bevestigde gevalle Covid-19 binne 24 uur daar aangemeld is.

Die wêreldwye uitbreking van die koronavirus toon in dié stadium nog geen tekens van afname nie met meer as 1,8 miljoen mense wat wêreldwyd weens die virus omgekom het. Altesaam 86 miljoen bevestigde gevalle is tot dusver wêreldwyd aangemeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.