116-jarige non oorleef Covid-19

Lucile Randon (Foto: https://gerontology.wikia.org/)

Die wêreld is in rep en roer oor ʼn Franse vrou wat net voor haar 117de verjaardag haar stryd teen Covid-19 oorwin het. Lucile Randon, ʼn Rooms-Katolieke non wat ook suster André heet, is tans die tweede oudste persoon ter wêreld en die oudste in Europa.

BBC berig Randon het op 16 Januarie positief vir die virus getoets. Sy het haarself van haar mede-inwoners in die Sainte Catherine Labouré-aftreeoord in Toulon, Suid-Frankryk, geïsoleer, maar geen simptome getoon nie.

Dokters het vandeesweek bevestig dat Randon genees is en nóú kan sy uitsien om haar 117de verjaardag Donderdag saam met haar geliefdes te vier.

Randon het aan Var-Matin, ʼn Franse koerant, gesê sy het nie eens geweet dat sy die virus het nie.

David Tavella, woordvoerder van die aftreeoord, sê Randon het nie ’n greintjie vrees vir die virus getoon nie.

“Sy was meer besorgd oor die ander inwoners se welstand,” het Tavella vertel.

Randon het aan BFM, ʼn Franse radiostasie, erken dat sy nie bang is om te sterf nie.

“Ek is bly om nog met julle te wees, maar ek wil graag elders wees – by my ouboet, my oupa en my ouma,” het sy oor die radio gesê.

Randon is blind en gebruik ʼn rolstoel.

Volgens berigte in Time en ABC News het 81 van die 88 inwoners in die aftreeoord positief vir die virus getoets. Tien van hierdie inwoners was nie so gelukkig soos Randon om te oorleef nie.

Randon is op 11 Februarie 1904 gebore. Sy het in 1944 by ʼn Rooms-Katolieke orde vir liefdadigheid aangesluit en staan sedertdien bekend as suster André.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sylvia ·

Hoekom het sy laat toets? en waar het sy en die ander dan die virus opgetel as hulle dan so afgesonderd lewe…

anniekiewiet ·

Lees weer, almal daar is getoets. Dis nie asof hulle op n verlate eiland woon nie.

Fritz ·

Toemaar tannie. Die oorgrote meerderheid mense moet ook vertel word hulle het die dodelike virus, anders sou hulle dit ook nie geweet het nie.

Dirk Mostert ·

Natuurlik sou sy dit nie agtergekom het nie. Sy was sonder simptome en vals positief. Die toets het sy oorsprong in ‘n artikel deur twee persone. Die WGO het hul voorgestelde toets binne 24 uur aanvaar sonder geleentheid vir wetenskaplike kommentaar (“peer reviews”). Daar is wetenskaplike bewyse dat die toets ‘n klug is, maar die WGO is doof en blind vir kritiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.