12 dood toe moltrein in China oorstroom

Zhengzhou het Dinsdag meer as 200 mm reënval in ʼn uur gekry. (Foto: China Xinhua News/Facebook)

Swaar reën in sentraal-China het die lewe van minstens 12 mense geëis en vyf ander is beseer nadat die moltreinstelsel in Zhengzhou, die hoofstad van die Henan-provinsie, oorstroom het.

Volgens die land se staatsbeheerde nuusagentskap, Xinhua, was ʼn onbekende aantal passasiers Dinsdagaand in treinwaens vasgekeer toe ʼn muur naby een van die ingange van die spoorlyn  meegegee het.

The New York Times berig dat vloedwater om 18:00 by die stelsel ingestroom en waens begin oorstroom het.

Beeldmateriaal van die voorval wat op Twitter gedeel is, wys hoe vreesbevange passasiers aan handvatsels klou terwyl die water tot by hul nekke styg. Die watervlak het ure later begin sak en nooddienswerkers kon passasiers een vir een uit die waens red. Die lyke van die oorledenes is ook uit die waens verwyder.

“Zhengzhou het ʼn rekordhoeveelheid reën die afgelope ruk gekry en Dinsdag is meer as 200 mm reënval in ʼn uur aangeteken,” het die provinsiale meteorologiese sentrum van Henan gesê.

Provinsiale owerhede het die stad se treinstelsel, wat uit sewe spoorlyne en 153 stasies bestaan, se bedrywighede ná die voorval opgeskort.

Intussen is meer as 80 busroetes ook opgeskort, terwyl 100 roetes tydelik herlei is, berig Xinhua. Die Zhengzhou-lughawe het ook sowat 260 vlugte in en uit die stad gekanselleer en die owerhede het sommige passasierstreine op pad Zhengzhou toe gestaak.

CNN berig dat die swaar reën kragonderbrekings in dele van die stad veroorsaak het. ʼn Hospitaal met byna 10 000 pasiënte het glo ʼn uur lank sonder krag gesit.

Pres. Xi Jinping het inwoners gewaarsku dat sommige damwalle beskadig is en dat riviere hul oewers kan oorstroom.

Die oorstromings het groot skade aan dele van die stad en omliggende gebiede veroorsaak en amptenare vermoed dat die dodetal in die volgende paar dae gaan styg.

Meer as 6 000 brandweerlede, byna 2 000 polisiebeamptes en die weermag is ontplooi vir soek- en reddingsoperasies in en om die stad. Soldate en noodpersoneel help sowat 200 000 mense om die stad te verlaat terwyl ander inwoners op vlotte gered word.

Groot dele van Europa het die afgelope tyd ook swaar reën gehad wat tot verwoestende oorstromings in onder meer Duitsland en België gelei het. Talle mense is intussen dood en honderde word steeds vermis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sandra ·

Wow dis nou ‘n scary ondervinding om ondergronds in ‘n moltrein te wees en die water kom in.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.