12-jarige sterf in vuurwerke-ongeluk

(Foto: Polisie/Nederland via politie.nl)

ʼn 12-jarige kind is Vrydag dood en ʼn ander ernstig beseer tydens ʼn vuurwerke-ongeluk in Nederland, ondanks ʼn landswye verbod op vuurwerke om die Nuwejaar te vier.

Die voorval het in die klein oostelike dorp van Haaksbergen naby die grens met Duitsland plaasgevind. Kinders het glo gekyk hoe ʼn volwassene vuurwerke met ʼn tuisgemaakte toestel laat afgaan.

“ʼn 12-jarige seun het tydens die voorval gesterf. ʼn 11-jarige seun is na ʼn hospitaal geneem,” het die plaaslike polisie gesê. “Die kinders het nie self die vuurwerk laat afgaan nie.”

Die kinders het staan en kyk hoe die man die vuurwerke met ʼn “klaphamer” laat afgaan, het die NOS-staatsuitsaaier berig. Die toestel is bloot ʼn groter weergawe van ʼn knalpistool waar ʼn hamer ʼn aambeeld tref wat met ontvlambare poeier gevul is en ʼn groot knal veroorsaak.

Een man is in hegtenis geneem.

Nederland het voor die Covid-19-pandemie gewoonlik baie geld aan vuurwerke spandeer in ʼn vuurwerk-manie wat sommige strate in die stad byna in slagvelde omskep het. Die praktyk is egter vir ʼn tweede agtereenvolgende jaar verbied. Hugo de Jonge, minister van gesondheid, het gesê vuurwerkverwante beserings plaas te veel druk op gesondheidsorgwerkers wat reeds sukkel met die koronavirus-pandemie.

Ondanks die verbod kon harde knalle egter gereeld gehoor word in die oploop tot middernag.

Die polisie het ook op ʼn groot hoeveelheid onwettige vuurwerke beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.