12 sterf toe vliegtuig neerstort

Bruce en Irene Steinberg, en hul drie seuns, William, Zachary en Matthew. Foto: Facebook

Twaalf mense is dood toe ʼn ligte vliegtuig Sondag in Costa Rica neergestort het.

CNN berig tien van die oorledenes was Amerikaanse burgers. Volgens die Costa Rica Star het ʼn groep toeriste glo die vlug bespreek wat 10 passasiers en twee bemanningslede ingesluit het.

Die vliegtuig het glo kort nadat dit opgestyg het aangemeld dat dit probleme ervaar. Die vlug was op pad na die Juan Santamaria internasionale lughawe in San Jose toe dit in ʼn bergagtige gebied in die noordwestelike gedeelte van Costa Rica neergestort het.

Ooggetuies het aan die Costa Rica Star gesê die vliegtuig het in vlamme uitgebars die oomblik toe dit neerstort. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.

Die foto wat deur Costa Rica se departement van openbare veiligheid vrygestel is, wys die ongelukstoneel waar die vliegtuig in die Guanacaste-gebied in Costa Rica neergestort het (31 Desember 2017). Foto: Costa Rica’s Public Safety Ministry via AP

Die New York Times het intussen vyf van die oorledenes geïdentifiseer as Bruce en Irene Steinberg, en hul drie seuns, William, Zachary en Matthew, van Scarsdale in New York City. Volgens die koerant was die gesin op pad na San Jose vir die laaste been van hul gesinsvakansie saam.

“Hulle was die soort mense wat jy wens jy het baie van gehad. Hulle het altyd alles saam as ʼn gesin gedoen,” het ʼn familielid aan die koerant gesê.

Die New York Daily News het die ander vyf Amerikaners wat dood is geïdentifiseer as Mitchell en Leslie Weiss, en hul 19-jarige dogter, Hannah, van Belleair in Florida, en Amanda Geissler en Gene Szeto.

Laura Chinchilla, die voormalige president van Costa Rica, het op Twitter gesê haar neef, Juan Manuel Retana, was die vlieënier van die vliegtuig. Die ander oorledene van Costa Rica is in die media as Emma Ramos Calderon geïdentifiseer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Blue Butterfly ·

Dit is absoluut tragies! Ek weet nie hoe families dit kan regkry om so iets te verwerk as 5 en 3 lede van ‘n gesin opslag sterf nie. Sterkte aan almal wat geliefdes in die ongeluk verloor het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.