12 sterf toe vragmotor deur Kersmark in Berlyn ry

Minstens 12 persone is op 19 Desember 2016 dood en 48 beseer toe ʼn vragmotor deur ʼn skare by ʼn Kersmark in Berlyn gejaag het Foot: AP Photo/Michael Sohn

Minstens 12 persone is op 19 Desember 2016 dood en 48 beseer toe ʼn vragmotor deur ʼn skare by ʼn Kersmark in Berlyn gejaag het Foot: AP Photo/Michael Sohn

Minstens 12 persone is Maandagaand dood en 48 beseer toe ʼn vragmotor deur ʼn skare by ʼn Kersmark in Berlyn gejaag het.

Volgens die polisie het die vragmotor deur die tafels en houtstalletjies gejaag. ʼn Persoon, vermoedelik die bestuurder van die vragmotor, is naby die toneel in hegtenis geneem en ʼn passasier is dood toe paramedici hom behandel het.

Talle toeriste en plaaslike inwoners het die gewilde Kersmark buite die Kaiser Wilhelm-gedenkkerk bygewoon toe die groot Scania-vragmotor daardeur gejaag het. Duitsland se topsekuriteitsbeampte het gesê volgens bewyse was dit doelbewus en die Withuis in Amerika het die voorval, “wat ʼn terroriste-aanval blyk te wees”, veroordeel.

Die polisie het vroeg Dinsdag gesê 48 persone is in hospitale opgeneem, waarvan sommige ernstige beserings opgedoen het.

Mike Fox, wat van Birmingham in Engeland die Kersmark bygewoon het, het aan die Associated Press gesê die vragmotor het hom met ongeveer drie meter gemis. Hy het persone gehelp wat frakture opgedoen het of onder die stalletjies vasgekeer was. “Mens doen wat jy kan. Dit het so vinnig gebeur, daar was niks wat ons kon doen om dit te stop nie,” het hy gesê.

Die vragmotor, wat staalpenne vervoer het, het op ʼn sypaadjie langs die mark tot stilstand gekom. Dit het ʼn groot stalletjie, “Fascination Christmas”, omgery en ʼn groot Kersboom omgestamp. Die drie meter hoë boom het in die straat gelê met die rooi en goue ornamentele Kersballe nog vasgemaak en ʼn goue ster aan die bopunt.

Die voorval kom ʼn maand nadat die Amerikaanse staatsdepartement persone gewaarsku het teen aanvalle by markte en ander openbare plekke in Europa en gesê ekstremistegroepe soos die Islamitiese Staat en Al Kaïda “fokus op die vakansieseisoen en verwante geleenthede”.

Albei groepe het volgelinge aangemoedig om van vragmotors gebruik te maak om skares aan te val. Altesaam 86 persone is op 14 Julie vanjaar dood toe ʼn vragmotor deur ʼn skare by Bastilledag-vieringe gejaag het. Die Islamitiese Staat het aanspreeklikheid aanvaar vir die voorval.

Daar was nie Maandag enige versperrings rondom die Kersmark in Berlyn nie.

Owerhede het persone op Twitter versoek om die gebied te vermy omdat hulle die strate wou oophou vir reddingsvoertuie. Talle ambulanse het in die straat gestaan en wag om persone te ontruim.

Die passasier in die vragmotor het aan sy beserings beswyk terwyl paramedici hom behandel het, het Winfried Wenzel, woordvoerder van die polisie in Berlyn, gesê. Die polisie het later gesê die man is van Poolse afkoms, maar geen verdere inligting is nog bekend gemaak nie.

ʼn Verdagte, vermoedelik die bestuurder, is ongeveer 2 km van die toneel naby die Oorwinningskolommonument in hegtenis geneem. “Hy word ondervra,” het Wenzel bygevoeg. Die vragmotor is in Pole geregistreer en die polisie glo dis moontlik van ʼn nabygeleë bouperseel gesteel.

Die eienaar van die vragmotor het gesê hy vermoed die vragmotor, wat sy neef bestuur het, is dalk gekaap. Ariel Zurawski het gesê hy het Maandag omstreeks 12:00 laas met sy neef gepraat toe hy gesê het die vragmotor is in Berlyn en hy sal na verwagting Dinsdagoggend sy vrag aflewer. “Hulle moes iets aan my bestuurder gedoen het,” het hy aan TVN24 gesê.

Federale staatsaanklaers, wat terreurgevalle hanteer, het die ondersoek oorgeneem, volgens Heiko Maas, Duitsland se minister van justisie.

Die verkose Amerikaanse president Donald Trump het Islamitiese terreurgroepe blameer vir die aanval, maar dit is nog nie duidelik waarop hy sy uitlating baseer nie. Hy het gesê Islamitiese ekstremiste moet “van die aarde af uitgewis word” en onderneem om dié sending uit te voer “saam met alle vredeliewende vennote”.

Duitse owerhede het egter gesê dit is nog te vroeg om te bevestig dat die ongeluk doelbewus was. “Ek wil nog nie die woord ‘aanval’ gebruik nie, alhoewel die getuienis soontoe wys,” het Thomas de Maiziere, minister van binnelandse sake, aan ARD-televisie gesê. “Daar is ʼn sielkundige effek in die hele land wat woordkeuse betref, en ons moet baie, baie versigtig wees en nie spekuleer nie.”

-Associated Press-skrywers David Rising, Geir Moulson en Frank Jordans in Berlyn en Lori Hinnant in Parys het tot hierdie verslag bygedra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

John ·

Mense ‘vlug’ na Europa om bietjie ‘weg te kom’ van die stres van om-in-Afrika-te-woon, maar nerens is jy meer veilig nie. Die ironie is dat is dat die Europeers weer hierheen vlug vir rustigheid…

Ada ·

Ek hoop nou nie die Duitse Regering kom weer met die storie dat die aanvallers “versteurd” is nie, want dit is wat hulle altyd se. Merkel verbied enige negatiewe berigte oor die immigrante en daardie inligting kry ek direk vanaf Berlyn. Die Duitsers is moeg vir haar regering en haar hand op die blaas houding met Obama – wat so immigrant-vriendelik is en sien uit dat Trump die Withuis betree om ‘n verandering aan te bring.

Lyn ·

Ek sien in Daily Mail se kommentaar is mense woedend vir Merkel wat die immigrante ingebring het. Trump 100%

gert ·

Daar was waarskuwings gewees dat so-iets kan gebeur maar die Duitse Regering het hulle nie daaraan gesteur nie want hulle glo nie dat die immigrante iets verkeerd kan doen nie, Hulle probeer polities korrek wees maar ly self daaronder -totdat dit te laat is.

Gunter ·

Polities- korrektheid gaan nie vir Duitsland red nie. Die Duitse polpulasie moet hulle stem dik maak.

Lance ·

Mens kan verstaan dat mense teen globaliseering is .. Sirie is n GROOT gemors en nou sit Duitsland met die mense en hulle gewoontes …Daar is 12 mense dood en volgens statistiek word 50 mense in SA vermoor elke liewe dag …wat n kontras !

Jan ·

Dit lyk my die vragmotor het gery, sommer volspoed, so asof die nie brieke gehad het nie. Kan mens sê lekrem? En as mens die woord ‘lekrem’ omdraai, wat kry jy dan?

Pietser ·

Dis onmoontlik om hierdie tipe dinge te keer, selfmoordaanvalle dieselfde storie.

Boerseun ·

Siende die hoeveelheid reaksies wat jy kry dink ek nie die mense van orania steur hulle te veel aan jou nie. Maar lig my bietjie in oor die doomsday prophecy wat gemaak is waarvan jy praat, ek lees dit nie raak nie

Azuni ·

Hierdie terroriste het omtrent ‘n aand van terror gisteraand gehad. Eers die Ruslandse Ambasedeur (jammer vir die spelling weereens) en nou hierdie. Aai tong. Onnidige verlies van lewe.

kobus ·

Maak grense oop. Julle wil mos liberaal wees. Julle wil mos so graag met die godelose meng.

Johann ·

Ek sien Dlamini Zuma, van die Afrika Unie (dalk ons nuwe Prez Zuma nr 2, na Zuma nr 1), agiteer daarvoor dat die lande in Afrika, hul grense oopmaak.

Whaaaa ·

Amper lag ek, die grense in AFRIKA is reeds oop (in effek) .. hoeveel onwettige immigrante sit SA mee? MILJOENE .. WIE wil na Afrika lande emigreer behalwe ander AFRIKANE in wie se lande dit vrot gaan omdat hulle vrot gestem het? O ja die Chinese en Guptas like ook van Suid Afrika . maar hulle is reeds almal hier.

Jef ·

Die vragmotor het ongeveer tussen die 50 en 60 km per uur gery op n afstand van 50 meter en daar is nu bevestig dat dit n aanslag was.
Bron van Nederlandse nuus sender, die bestuurder vermoedelik uit Afghnistan afkomstig het 6 maande in Duitsland gewoon voordat hy tot die daad oorgegaan het.

JB ·

Weer bloedvergieting a.g.v. die liberale-bende en hul maatjies. Hopelik gaan die stiksienige Duitsers se oë oop.

Ada ·

Dit is die Duitse polisie wat so pateties is want hulle moet Merkel se instuksies volg. Dit het hulle ook hoe lank geneem om uit te figure dat die dooie man langs die bestuurder van Poolse afkoms is en vermoor is vir sy trok. Hulle was ook huiwerig om dit op die nuus te plaas. ‘n Bystander het die moordenaar uit die trok sien klim en hom ge-agtervolg en die Duitse Polisie laat weet waar hy is want hulle kon dit nie eers self doen nie, anders was hy nooit in hegtenis geneem nie. Hy sal seker ook niks oorkom nie want hulle doen niks aan die immigrante nie.

Johanna Botha ·

Wat makeer die moslems om so iets te wil doen ….dis onskuldige mense die wat NIKS met hulle tedoen het nie … SIEK !

Mossie ·

Europa het hulle grense oopgegooi vir al wat ‘n vlugteling is. Grensbeheer is verslap en almal wil Racheltjie de Beer speel en (arme) vlugtelinge met ope arms omhels. Ongelukkig is dit die gevolg daarvan. Ons sukkel ons DOOD as Suid Afrikaners om in Duitsland in te kom, maar ander loop met geen probleem daar in nie, en die politieke korrektes het tot nou toe gedink hulle doen ‘n goeie daad, nou KOS dit hulle hulle eie mense. Mense leer NIKS uit die geskiedenis uit nie.

Oom Kalahari ·

Die polities korrektes sal weer dit verdraai en afmaak as ‘n geisoleerde geval, maar dinge is besig om in Europa te broei. Kanselier Merkel wil niks weet van haar geliefkose immigrante, maar die groot byt is nog oppad. Die strategiese beplanning van sodanige immigrante is om Europa in te sypel met vrye toegang en dan toeslaan wat groot lewens verliese en skade gaan aanrig. Obama en Merkel is aandadig tot hierdie dade wat nie na hul gemeenskappe wil luister en korrekte besluitnemings toepas nie, maar poppe op ‘n string van die JWO is.

ada ·

Ek wil graag verskoning aanteken deur te se dat ek jammer is oor wat ek gese het van die Duitse polisie. Hulle werk onder baie moeilike omstandighede en probeer hulle bes. Dit was dus verkeerd van my om sleg van hulle te praat en ek vra omverskoning.
Dankie
Ada

Merkur ·

Dit is waar dat die Duitse polisie onder slegte omsandighede moet werk. Al die jare is die polisie deur die links-“liberale” politiek kaput gespaar. Dit kom ook voor dat hulle self uitrusting soos handskoene ens. moet aanskaf. Dan word die polisie ook deur die deels-partydige justisie in die steek gelaat deur aangekeerde intensief-kriminele uit die buiteland onmiddelik weer vry te laat. Ook gebeur niks as polisie aangerand, gespoeg of beledig word nie. Dikwels word polisie aangekla vir rassisme deur slinkse buitelanders. Polisie wat openlik die omstandighede kritiseer word verplaas of verloor hulle werk soos die polisiehoof van Keulen nadat hy beweer het die minister van binnelandse sake van Reihnland-Westfahlen het hom verbied om die pers te informeer oor die Nuwe Jaar verkragtings.
Daar word vermoed (of dit is duidelik) dat sommige ander polisie-hoofde marionette van die politiek is of te bang is om weerstand te bied teen politici.

Merkur ·

Bietjie erg spelfoute van my. Nooit weer sonder brille én onder tyddruk nie.

Simon ·

Vroeer in Nice, Frankly, ca 80 mense gedoen met bus.
Nou in Berlyn, Duitsland 12 mense gedood met vragmotor.
Beide gevalle word internasionaal as terroriste aanvalle beskryf.
In RSA word oor dieselfde tyd meer mense vermoor op plase en dit word deur owerhede as “normaal” beskou.
Dit het tyd geword dat daar deur die publiek besef word dat terroriste los rondloop in RSA.
Weliswaar nie sigbaar georganiseerd nie, maar onlangs beweringe aangaande Z se koverte betrokkenheid by gebeure by Marikana laat my ernstig wonder hieroor.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.