120 vas weens betogings in NZ

Betogers en die polisie het koppe gestamp in Nieu-Seeland. (Foto: Marty Melville/AFP)

Die polisie in Nieu-Seeland het Donderdag met betogers in Wellington koppe gestamp nadat die betogers sedert Dinsdag by die parlementsgebou kampeer in protes teen allerlei Covid-19-verwante regulasies.

Altesame 120 kampeerders is in hegtenis geneem nadat hulle beveel is om die parlementêre terrein te verlaat, maar die bevel verontagsaam het. Dít nadat owerhede dié terrein vir lede van die publiek gesluit het en die groep wou uiteenjaag.

Honderde Nieu-Seelanders het vroeër vandeesweek onderneem om voor die parlementsgebou te bly totdat die Covid-19-beperkings en gedwonge inentings opgehef word.

Toe die polisie egter Donderdag die tydelike nedersetting op die grasperke van die parlement wou begin skoonmaak het dié twee groepe erg vasgesit.

Beamptes het pepersproei op ʼn aantal betogers gebruik, terwyl twee polisielede in die skare ingesleep is. Die betrokkenes het slegs ligte beserings opgedoen.

(Foto: Marty Melville/AFP)

Te midde van die chaos het betogers glo steeds geskree “hierdie is nie ʼn demokrasie nie” en “laat die mandaat vaar”.

Die Wellingtonse stadsraad het ook Donderdag sy parkeerbeamptes aangesê om boetes aan die konvooivoertuie uit te reik wat die strate versper.

Grant Robertson, adjunk-premier, sê inwoners se geduld het opgeraak met die ontwrigting en dit het die polisie aangemoedig om op te tree.

“Strate is in die stad versper, terwyl sakeondernemings moes sluit,” het Robertson aan Radio New Zealand gesê.

“ʼn Aantal mense sê hulle het ook bedreig en geïntimideer gevoel.”

Inwoners het by die polisie aangeklop nadat hulle glo beledig is oor die dra van maskers. Verskeie sakeondernemings naby die parlement moes ook hul deure sluit nadat die personeel na bewering geteister is oor die toepassing van entstofmandate.

Inhegtenisnemings dreig in Kanada

Betogers versper ‘n pad naby die Ambassador-brug. (Foto: Matthew Hatcher/Getty Images/AFP)

Aan die ander kant van die wêreld dreig die polisie in Kanada om die bestuurders van ʼn konvooi vragmotors wat ʼn sleutelpunt vir oorgrensehandel met die VSA versper, in hegtenis te neem.

Betogings teen verpligte Covid-19-inentings en inperkingsregulasies woed al vir byna twee weke in Ottawa, Kanada se hoofstad, met verskeie provinsies in die land wat reeds besluit het om alle Covid-19-verwante beperkings op te hef.

Die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, het egter die betogers se jongste poging om die mandate opgehef te kry deur die Ambassador-brug tussen Windsor in Kanada en Michigan in die VSA te versper, as “onaanvaarbaar” beskryf.

Dié brug is ʼn belangrike sleutelpunt vir handel tussen die twee lande, en is weens die betogings tydelik gesluit. Meer as 40 000 pendelaars, toeriste en vragmotors ry daagliks oor die brug en sowat $323 miljoen (byna R5 miljard) se goedere word oor die brug gependel.

Trudeau sê dié versperring kan die land se ekonomiese herstel aansienlik benadeel.

“Blokkades en onwettige betogings is onaanvaarbaar en het ʼn negatiewe impak op ondernemings. Ons moet iets doen om die chaos tot ʼn einde te bring.”

Trudeau het aan die betogers gesê dat die pandemie nie met blokkades beëindig kan word nie.

“[Die pandemie] moet met wetenskap beëindig word en met openbare gesondheidsmaatreëls.”

Jen Psaki, woordvoerder van die Withuis, het vroeër gesê Amerikaanse amptenare is in baie noue kontak met Kanadese grensagentskappe oor die brugblokkade.

(Foto: Geoff Robins/AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Misky ·

Hulle begin nou benoude spronge te maak en is uit goeie en geldige verskonings om hul diktatorskap te kan staaf.

Heinrich ·

Trudeau en Psaki kan mense grondwetlike regte volgens die Geneva konvensie respekteer, dit behoort al ‘n goeie begin te wees.

AW ·

Hier waar ek woon in SA, dra die Volk selde hul maskers, as hulle op straat is….

Nie Verbaas ·

Trudeau kla nou oor hoe betogers die land se ekonomie herstel belemmer terwyl hy geen probleem gehad het toe die regering die ekonomie geskaad het nie.

Frikkels ·

Die arme inwoners wat al so gebreinspoel is dat hulle keelvol raak vir mense wat op hulle regte staan! Die wêreld is ñ siek plek waar diktatorskap en sosialisme al hoe meer en meer gedy. Veral afrika suid van die sahara.

Alfred E Neuman ·

Nee Frikkels. Dit is wêreldwyd. Politici wil nie meer die mag afstaan nie, selfs in demokratiese lande. Die groot salarisse, korrupsie en wat nog, is al te lekker vir niks doen.

Riaan ·

Jen Psaki is seker erg tranerig omdat sy nie die situasie op Trump kan blameer nie.

piet ·

LOL, elke land het maar sy porsie idiote (soos Trump ondersteuners).

Karlahari ·

In enige samelewing is daar altyd meer volgelinge (idiote) as leiers (denkers).
Ek val eerder onder die minderheid.

Raadsman ·

Kyk ons het nou al ‘n klomp morone gehad wat ons land regeer, maar ek kan vir julle se Trudeau vat die koek. Ek is baie dankbaar hy is nie ons president nie.

Witbaard ·

Die probleem is dat daar net honderde mense betoog, hulle moet in hulle miljoene opdaag

H.A. ·

Dit is soortgelyks soos in 1960s. Hippies wat betoog met die peace teken teen die oorlog in Vietnam. Wat is die hededaagse teken?.. iets om te onthou vir die volgende 40 jaar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.