$125 miljoen om Botswana se diamantbedryf te versterk

Argieffoto

Argieffoto

Die Amerikaanse regering het ʼn lening van $125 miljoen toegestaan wat gebruik sal word om Botswana se plaaslike diamantslyp- en poleringsbedryf sal verstewig om meer werk te skep en die ekonomiese groei te bevorder.

Die Amerikaanse buitelandse finansierder, Overseas Private Investment Corporation (OPIC), het Dinsdag in ʼn verklaring gesê die twee regerings het op 25 Julie ʼn leningswaarborg in Gaborone onderteken. Die geld sal deur Standard Bank Botswana uitbetaal word.

Die instansie het gesê die geld is die eerste deel van ʼn $250 miljoen-fonds wat plaaslike slyp- en poleringsmaatskappye sal finansier om seker te maak dat die sortering, bemarking en vervaardigingsfunksies plaaslik kan geskied.

“Hierdie waardetoevoegingsfunksies in Botswana was ʼn prioriteit vir die regering en die waarborg bied die finansiële ondersteuning wat dié ekonomiese ontwikkelingstrategie benodig om te slaag,” het OPIC gesê.

OPIC het die $125 miljoen-leningswaarborg met Barclays Bank van Botswana, en Lazare Kaplan International (LKI), wat deur sy filiaal Botswana Finance LLC optree, onderteken.

“Die projek bied noodsaaklike ondersteuning aan ʼn bedryf wat sentraal is tot Botswana se ekonomie en ʼn sleutelbron van werkskepping,” het James Polan, vise-president van die OPIC klein- en mediumgrootte ondernemingsfinansieringskema, gesê.

OPIC het gesê dié ondersteuning help die myngebaseerde ekonomie om te diversifiseer en om die land se finansiële bedryf te ontwikkel gegewe die noodsaaklike rol wat die diamantbedryf speel.

Leon Tempelsman, president van LKI, het die inisiatief geloof en gesê dit sal direkte ondersteuning bied vir ekonomiese groei in Botswana.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.