13-jarige bestuur voertuig in ongeluk wat nege eis

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Michael Fortsch / Unsplash)

’n 13-jarige seun was agter die stuur van ’n voertuig wat Dinsdagaand teen ’n universiteitsbussie gebots en nege lewens geëis het. Die voorval het naby Andrews in Texas in die VSA plaasgevind.

Ses lede van die University of the Southwest in Nieu-Mexiko en hul afrigter is dood, sowel as die seun wat die bakkie bestuur het. Sy 38-jarige pa, wat langs hom gesit het, het ook in die ongeluk omgekom.

Twee studente, albei Kanadese, het die ongeluk oorleef en is tans in ʼn bedenklike toestand in die hospitaal.

Volgens die departement van openbare veiligheid in Texas het die Dodge 2500-bakkie in die aankomende baan ingeswaai en reg van voor met die bussie gebots.

Albei voertuie het aan die brand geslaan.

Bruce Landsberg, die ondervoorsitter van die nasionale vervoerveiligheidsraad, het aan KWES TV in Odessa, Texas, bevestig dat die minderjarige die bakkie bestuur het.

Ingevolge Texas-wetgewing mag ʼn persoon eers op die ouderdom van 15 ʼn leerlingbestuurslisensie kry wat hom of haar toelaat om saam met ʼn gelisensieerde volwassene ouer as 21 jaar te bestuur.

Landsberg het voorts gesê dit lyk of die bakkie se linkervoorband net voor die ongeluk gebars het.

Albei voertuie het glo ook teen ʼn hoë spoed gery.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Swerwer ·

As ouers net maar wil besef daar is ‘n plek en tyd vir alles, Ongelukkig regeer hedendaagses kinders mos die ouers en regering.

KatjieDeKat ·

Dis aaklig en so tragies, die arme geliefdes van hierdie mense..hierdie lewe hier op Aarde voel baie dae vir my soos een lang tragedie, om eerlik te wees. Ek self het heelwat probleme maar as ek so rondkyk, sien wat ander mense moet deurgaan, wil ek net huil.

Marthinus W ·

Die woord “omkom” kon ek nog nooit vat aan kry nie; klink vulger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.