135 000 onnies in Zimbabwe geskors

Argieffoto (Foto: ArtTower/Pixabay)

ʼn Staking deur onderwysers in Zimbabwe het onderrig vir ʼn tweede week in dié land tot ʼn stilstand gedwing. Daar is geen oplossing in sig nie en die regering het intussen 135 000 onderwysers geskors omdat hulle versuim het om vir werk op te daag.

Talle onderwysers het nie vir werk aangemeld toe die skole vir die eerste termyn van die jaar oopgemaak het nie. Hulle sê hulle kan dit nie meer bekostig om van hul huise af na die klaskamer te pendel nie.

ʼn AFP-korrespondent, wat skole in Harare besoek het, het gesien hoe skoliere op die skoolgrond rondhang of in klaskamers speel.

Sommige skole is in hul geheel verlate gelaat waar nie die onderwysers of skoliere opgedaag het nie.

Onderwysers in Zimbabwe verdien sowat US$100 (ongeveer R1 500) per maand.

Die ministerie van onderwys het Donderdag gesê hy skors die onderwysers vir drie maande omdat hulle versuim het om vir werk op te daag.

Vakbonde sê die getal geskorste onderwysers beloop sowat 135 000 uit die ongeveer 140 000 wat by staatskole in diens staan.

“Die regering het die skole gesluit deur meer as 90% van sy onderwysers te skors,” het Takavafira Zhou, president van die Progressive Teachers’ Union of Zimbabwe, aan AFP gesê.

Die salarisdispuut tussen die onderwysers en die regering duur al drie jaar lank voort toe die regering besluit het om onderwysers nie meer in Amerikaanse dollar te betaal nie, maar eerder in Zimbabwiese dollar – waarvan die waarde skerp gedaal het weens inflasie.

“Die onderwysers wat die kleinste salaris ontvang, ontvang sowat US$80 (R1 200) per maand. Ons wil hê die salarisse moet herstel word tot dit wat ons onder [oudpres. Robert] Mugabe ontvang het, wat US$540 (sowat R8 000) was,” het Zhou bygevoeg.

Hy beskuldig die regering vir swak behandeling van onderwysers. “Vir onderwysers groei geld nie aan bome nie en hulle ontvang dit ook nie soos manna uit die hemel nie.” Hy sê die regering gebruik “boewery” om onderwysers te dwing om terug te keer werk toe. Hy sê die vakbonde sal die skorsings in die hof daag.

Terwyl Mugabe (self ʼn opgeleide onderwyser) aan bewind was, het Zimbabwe van die hoogste standaarde van onderwys in Afrika gehad. Zimbabwiese skoliere het reeds maande se onderrigtyd verloor weens Covid-19-regulasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Strandloper ·

Wat is nou weer die trape van vergelyking van onossel?

JohanR ·

Ek was in Jameson Hoer in Gatooma(Kaduma) onder hoof Mnr Angus Burns vanaf 1968 tot 1974. Wat ‘n wonderlike skool en wonderlike tyd van my lewe. Miskien te veel ge-party en gejol, en te min studeer maar darem my “O” vlak net net deur geskuur! Weet nie as of ek dit sou gemaak het, as ek vandag in die hoer skool in SA was nie?

Elmarie ·

90% van die onderwysers geskors! ‘n Geval van “cut your nose to spite your own face” . Wat ‘n skande.

JJB ·

Die einde van onderwys. As ons gedink het dit kan nie nog slegter in Zim gaan nie, moet ons weer dink. En hier in sonnige SA gaan dinge nie veel beter nie. ..

Misky ·

So nou gaan die onderwysers en sekerlik die kinders vir drie maande by die huis sit en die tyd om wag??? Nee, reguit oor die grens en kom SA toe vir heenkome en op ons nekke lê.

Ester ·

Hulle kan nou maar van Robert Mugabe sê net wat hulle wil, maar onder sy regering was Zimbawiërs van die bes opgeleide skoolkinders in Afrika.

Pietertjie ·

Ek het nie gedink dat Zimbabwe só baie onderwysers het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.