Plaaslike owerhede het gesê hoewel die duisende werkers en personeel inderhaas uit die sentrum ter waarde van $825 miljoen ontruim moes word, is geen beserings aangemeld nie. Brandbestryders het glo ure lank gesukkel om die brand by die inkoopsentrum naby die Al-Rayan Sportklub aan die westelike buitewyke van die stad te blus.
Die Mall of Qatar wat al sedert 2012 in aanbouing is, sou volgens plan later vanjaar amptelik geopen word.
Beeldmateriaal en foto’s wat op sosiale media versprei is, het getoon hoe dik rookwolke bo die gebou hang. UrbaCon Trading & Contracting Co., die maatskappy wat die bou van die sentrum behartig, het Saterdag nie onmiddellik gereageer op versoeke vir kommentaar nie.
Die bestuur van die Mall of Qatar het in ʼn verklaring gesê die brand het omstreeks 14:30 ontstaan. “ʼn Ondersoek word gedoen en meer besonderhede sal bekendgemaak word sodra dit afgehandel is,” lui die verklaring.
Regeringsbeamptes in Katar het ook nie gereageer op ʼn versoek vir kommentaar nie.
ʼn Vorige brand in 2012 by die Villaggio-inkoopsentrum in Doha het die lewe van 19 mense geëis, van wie 13 kinders was. Die meeste oorledenes was ten tyde van die brand by ʼn dagsorgsentrum binne die inkoopsentrum. ʼn Ondersoek na die brand het aangedui dat ʼn elektriese fout die brand veroorsaak het, maar ook gemeld dat verskeie faktore tot die verspreiding daarvan bygedra het.
Vyf mense is in 2013 tronkstraf opgelê in verband met die voorval, maar hul skuldigbevindings is in Oktober verlede jaar deur ʼn appèlhof tersyde gestel.
Daar is nie so plek soos Katar op die wereld kaart nie. Dit is Qatar. Kan die mense wat dit skryf dit tog regkry.
Dagsê JA
“Qatar” is inderdaad “Katar” in Afrikaans. Buitelandse eiename word in Afrikaans getranslitereer wanneer die twee tale nie dieselfde alfabet gebruik nie. In Engels word die naam, Влади́мир Влади́мирович Пу́тин, byvoorbeeld as “Vladimir Putin” gespel, en in Afrikaans “Wladimir Poetin”, of Горбачёв word as “Gorbachev” of “Gorbachyov” gespel, en in Afrikaans “Gorbatsjof”.
Groetnis
Suné
nms Maroela Media
Nou waar is Katar?