Altesaam 14 mense is dood en meer as 12 in ʼn kritieke toestand nadat twee swaar gewapende aanvallers tydens ʼn banket op mense losgebrand het.
Dié voorval het in San Bernardino in Kalifornië plaasgevind.
Volgens Jarrod Burguan, San Bernardino se polisiehoof, is twee mense, ʼn man en vrou, noodlottig gewond in ʼn skietgeveg met die polisie, dít nadat die owerheid jag gemaak het op die aanvallers. ʼn Derde persoon wat op die toneel opgemerk is, is in hegtenis geneem, maar volgens Burguan is “dit onduidelik of die persoon by die aanval betrokke was”.
Die motief vir die aanval is nog nie duidelik nie. David Bowdich, assistentdirekteur van die FBI se Los Angeles-kantoor, het gesê dat hulle na verskeie moontlikhede kyk. “Die moontlikheid van terrorisme word nie uitgesluit nie.”
Die skietery het na wat verneem word Woensdag ongeveer 11:00 by die banketsaal uitgebreek. “Die aanvallers was duidelik goed voorbereid gewees,” het Burguan gesê.
Pres. Barack Obama van die VSA het gesê dat stappe gedoen moet word om sulke voorvalle te voorkom. “Ons moet verhoed dat sulke voorvalle die norm word.”