14-jarige sterf ná duikles in Maleisië

Cyril Edward, polisiehoof in Mersing, wys foto’s van die twee duikers wat lewend gevind is, Alexia Alexandra Molina van Frankryk (regs) en Brit Adrian Peter Chesters (links) (9 April 2022) (Foto: Mohd Rasfan/AFP)

ʼn Nederlandse tiener is dood toe ʼn groep saam met wie hy by Maleisië geduik het, vermis geraak het, het beamptes Saterdag gesê ná die dramatiese redding van sy pa en twee ander.

Die drie Europeërs en hul instrukteur het Woensdag in die moeilikheid beland toe hulle ná ʼn duik na die oppervlak gekom het, maar nie hul boot kon vind nie.

ʼn Britse man, die 46-jarige Adrian Chesters, en ʼn Franse vrou Alexia Molina (18) is deur vissermanne in die water naby Indonesië opgemerk. Die mariene polisie het hulle opgelaai en na Maleisië teruggeneem.

Chesters het aan beamptes gesê sy seun, die 14-jarige Nathen, wat Nederlandse burgerskap het, is oorlede. Die tiener “was te swak en kon nie oorleef nie”, lui ʼn verklaring deur die kuswag.

Die polisie het vroeër gesê die soektog na die seun is afgelas toe hulle bepaal het dat hy in Indonesiese water gedryf het. Hulle het hul eweknieë in Indonesië in kennis gestel.

Maleisië het die afgelope paar dae helikopters, ʼn vliegtuig, bote, duikers en jetski’s ontplooi om ʼn groot gebied te deursoek.

Die instrukteur, Kristine Grodem van Noorweë, is Donderdag reeds gered in die water aan die suide van Maleisië. Die ander twee oorlewendes is sowat 30 km noord van Indonesië se Bintan-eiland gevind. Hulle het sowat 130 km gedryf vanwaar hulle geduik het.

Die twee is in ʼn hospitaal in Maleisië opgeneem in ʼn stabiele toestand, het Cyril Edward Nuing, plaaslike polisiehoof in Mersing, gesê.

Owerhede het nie besonderhede verskaf oor hoe die drie vir só lank in die see oorleef het nie. Die drie is nog nie volledig ondervra oor hul ervaring nie.

Beamptes het vroeër die verwagting uitgespreek dat die duikers lewend gevind sal word omdat hulle baie ervare is en goed toegerus is, insluitend met ʼn duik-reddingsboei.

Ligte reën die afgelope paar dae het moontlik ook die duikers gehelp om te oorleef met vars drinkwater.

Esther Molina, die Franse tiener se ma, het Donderdag uit Mersing aan AFP gesê die familie “hoop vir die beste. Sy is ʼn sterk meisie, sy sal dit maak.”

Grodem het die duikers gelei langs ʼn klein eiland, Tokong Sanggol, sowat 15 km van Maleisië se suidkus, toe die ongeluk gebeur het.

Ná ʼn duik van sowat 40 minute het hulle na die oppervlak gekom, maar hulle kon nie hul boot vind nie. Hulle het in sterk systrome saam gebly, maar het uiteindelik van mekaar weggedryf.

Die kaptein van die boot wat hulle na die duikles geneem het, is in hegtenis geneem toe hy positief getoets het vir verbode middels. Die gebied waar die ongeluk plaasgevind het, is gewild met buitelandse en plaaslike toeriste.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.