14-jarige vas nadat hy glo broer, suster vermoor

Argieffoto

ʼn 14-jarige seun van Indiana in die VSA is in hegtenis geneem nadat hy na bewering sy tweejarige suster en 11 maande oue stiefbroer versmoor het.

Christina McCartney, die tiener se ma, hou egter nou vol haar seun is nié die monster wat mense dink hy is nie.

Die skokkende voorval het in Osgood in die Ripley-distrik plaasgevind. Die seun se naam mag nie genoem word nie aangesien hy minderjarig is.

Washington Post berig McCartney het een aand in Mei verlede jaar by die huis gekom en die seun (toe 13 jaar oud) aangetref waar hy sy sussie, Desiree, vashou. Desiree was in ʼn handdoek toegedraai en die seun het aan sy ma gesê iets is fout en Desiree toon geen reaksie nie.

McCartney het mond-tot-mond-asemhaling op haar dogter toegepas totdat paramedici opgedaag en met die tweejarige na ʼn hospitaal gehaas het. Desiree het vyf dae later gesterf. ʼn Nadoodse ondersoek het getoon dat sy dood is weens ʼn tekort aan suurstof na die brein, maar die oorsaak van die suurstoftekort kon nie bepaal word nie.

Die nuuswebwerf Cincinnati.com berig McCartney sê sy het destyds gedink haar dogter is dood weens ʼn onbepaalde mediese komplikasie.

Dit was egter nie die einde van die tragedie nie. Washington Post berig op 20 Julie 2017 het die tienerseun sy 11 maande oue bababoetie, Nathaniel, kort voor middernag in die bed gesit. Minute later het hy sy ma geroep en gesê “iets is fout met Nathaniel”.

McCartney het weer mond-tot-mond-asemhaling op die babaseuntjie toegepas en die nooddienste is weer ontbied, maar Nathaniel het gesterf. ʼn Nadoodse ondersoek het getoon dat die baba se hart gaan staan het, maar weereens kon die oorsaak nie bepaal word nie.

The New York Post berig die tienerseun het uiteindelik in Augustus vanjaar erken hy het sy broer en suster vermoor en hy is in hegtenis geneem. Volgens die berig het die seun aan ondersoekbeamptes gesê hy het die moorde gepleeg omdat hy die kinders “die een of ander hel” wou spaar. Op ʼn vraag na watter “hel” hy verwys, het die seun gesê “huistake” en hulle gevra of hulle al die lys huistake gesien het wat hy moet doen.

Cincinnati.com berig dat McCartney egter gesê het sy glo haar seun verwys eintlik na sy stiefpa wat saam met hulle in die huis woon en die kinders glo mishandel het. “Hy het gesien hoe lelik sy stiefpa met die babas is. Hy het hulle met opset omgestamp. Hy sou hulle ook in die slaapkamer toesluit om hulle stil te maak. [My seun] het ʼn donker prentjie geskets. As ma is dit moeilik om te besef hierdie dinge het aangegaan en ek het nie daarvan geweet nie,” het McCartney gesê.

Sy glo ook haar kêrel het nie van die verantwoordelikhede gehou om drie kinders groot te maak nie en het die tienerseun gedwing om sy sibbe dood te maak.

Die seun word tans in ʼn jeugoortredersentrum aangehou waar hy sielkundige evaluasie ondergaan om te bepaal of hy geskik is om verhoor te word. Indien hy wel geskik is, kan hy moontlik as ʼn volwassene verhoor word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

LOL ·

Ag tog, die ‘ma’s’ wat altyd beweer hulle was nie bewus van sekere situasies onder hul dakke nie … En dié een is gou genoeg op haar perd om alle blaam op die stiefpa te pak. Hoekom verskil die seun se weergawe dan? Omdat hy bang is vir Stiefpappa? Genade ons.

Guve ·

Hoekom moet die seun in elk geval na die kinders kyk,genade,nee,dis verkeerd,ek dink die ma en stiefpa moet beide ondersoek word,arme kunders.

Haan ·

Ek hoor jou Dawid. Ek dink ons onderskat die diepliggende invloed wat sekulêre vermaak op ons het. Rekenaarspeletjies/grusame films/reekse. Ek sidder om te dink wat die invloed van “virtual reality” in die toekoms gaan hê.

Oujongvrou ·

Massamoordenaar in wording. Dankie tog hys betyds gestop.

madels ·

Om in n huis groot te word waar jy mishandel word IS hel!!!!!!! Die arme seuntjie, vir hom was die enigste uitweg die dood…
Dis maklik om te oordeel en natuurlik is dit verskriklik wat die kind gedoen het en daarvoor sal hy moet boet. Maar glo my mense as een van jou ouers n duiwel is, dan leef jy in die hel en dood is soms die enigste ding waaraan jy kan dink, jy hoef nie sielkundige afwykings te he om so te voel nie.

My mening ·

Dit klink na ‘n baie ongesonde opset- die ma is nie daar nie, die tiener moet na sy sibbes omsien, die stiefpa mishandel die kinders. Die ma se die seun verwys eintlik na die mishandeling as die “hel”, maar se ook dat sy nie geweet het daarvan nie. In oorsese media word ook gese dat die seun hul kat doodgemaak het deur hom te druk totdat sy ingewande deur sy vel gebreek het omdat die kat hom gekrap het. Indien dit die geval is, is daar groot fout met hierdie kind en moet hy so gou moontlik uit die samelewing verwyder word. Die ma is beslis nie so onskuldig as wat sy graag wil voorgee nie. En is daar dan nie na die kinders se dood behoorlik ondersoek ingestel na hul dood nie? Dis mos vreemd dat 2 kinders uit dieselfde familie dood is en niemand weet regtig wat die oorsaak van hul dood is nie. Baie vreemd.

Cherokee ·

Nou waarom nie bloot ‘riller flieks’? Vra ek namens Ria en myself.

Spikkels ·

Ja nee genade ! Ek weet ons almal hier streef om so mooi as moontlik afrikaans te tik, maar daai is darem n verskriklike woord haha

Mishandeling ·

Mishandeling & misbruik. Hierdie seun is beslis verantwoordelike ouer van 2 kleintjies gemaak en hy praat van sy take lys. Die Ma praat van die Pa wat mishandel en sy ……. ja sy is dalk die skuldigste, kom nie eens die goed agter en hoekom kyk sy nie self na al 3 haar kinders nie? Indien sy moet werk, moet die kleintjies na ‘n sorg sentrum gaan, ‘n 13/14 jarige is nie ‘n ouer of verantwoordelik genoeg om in alle opsigte kinders groot te maak nie. Die kind is op so jong ouderdom so moedeloos met die lewe, hy het nou in ‘n kind se beperkte kennis en siening opgetree, maar gaan die prys alleen vir die res van sy lewe betaal.

Stuiwer ·

Dis skokkend! Wie is ek egter om te oordeel en te spekuleer oor die rede(s) vir die gebeure?

Didi ·

Mense sê ‘die ma’, ons gaan nie een die regte volle storie hier ken nie. Al was sy ‘n ‘slegte ma’… die kind was al 13 en het goed geweet wat hy doen… ek dink eerder hierdie is ‘n sielsiekte wat die tiener gehad het, net jammer die ouers kon nie vroeg genoeg die tekens sien en iets daaraan probeer doen het nie.

Botterblom ·

Ek is weer getroud so daar is my kind en sy kind. Om stiefouer te wees het baie meer kante as wat mense dink. Die boetie, in die geval, het te veel op sy hooi gehad vir sy ouderdom. Die druk het dalk ernstige gevolge gehad.

Absoluut ·

Dit is absoluut een van die moeilikste dinge, ek sien dit elke dag om my. Die persoon wat met ‘n ander uit liefde trou en daardie persoon met aanhangsels aanvaar (al manier) en daardie aanhangsels met respek behandel het ongelooflik gelukkige huwelike. Dit hang van jou af en as die kinders onmoontlik is, bespreek dit met mekaar. As daar dan nog twyfel is, kry bewyse dat die kind moedswillig is, dit gebeur regtig, hul is kwaad omdat hul ouers geskei is of hul die ouers met iemand nuut moet deel. Daar is soveel hulp deesdae, dit hang af wat jy daarmee gaan doen. Geld is altyd 1 verskoning en dit hang maar af hoe graag mens in vrede wil saamleef.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.