145 walvisse strand in Nieu-Seeland, helfte geskiet

Sowat 145 walvisse het uitgespoel waarvan 75 reeds dood was toe beamptes op hulle afkom. Die res is van kant gemaak. Foto: DOC

ʼn Tragedie het hom in Nieu-Seeland afgespeel nadat twee skole walvisse gestrand het en die departement van natuurbewaring al die oorlewende diere moes laat uitsit weens hul toestand en die afgeleë gebied waar hulle op die strand beland het.

ʼn Kampeerder op Stewarteiland, Nieu-Seeland se derde grootste eiland, maar die tuiste van skaars 400 permanente inwoners, het die departement Saterdag 22:30 in kennis gestel van die voorval nadat hy na ʼn veldbasis voetgeslaan het om kontak met hulle te maak.

Die departement van natuurbewaring se bedryfsbestuurder vir Stewarteiland, Ren Leppens, sê die helfte van die walvisse was reeds dood teen die tyd dat hulle gevind is. Weens die oorblywende walvisse se toestand en die afgeleë strand wat moeilik is om te bereik, is besluit om die res van kant te maak.

Ongelukkig was die kans om die oorlewende walvisse suksesvol terug in die see te kry, uiters skraal.

“Ongelukkig was die kans om die oorlewende walvisse suksesvol terug in die see te kry, uiters skraal,” het Leppens gesê. “Die afgeleë ligging, die afwesigheid van nabygeleë personeel en die walvisse se verslegtende toestand het beteken die menslikste uitweg was om genadedood op hulle toe te pas.”

Hy het bygevoeg dit bly nietemin altyd “ʼn hartverskeurende besluit om te neem”. Die walvisse wat nog geleef het, nagenoeg die helfte van die amper 150 op die strand, is toe geskiet.

Mariene soogdiere beland taamlik gereeld op Nieu-Seeland se strande. Die departement van natuurbewaring reageer op nagenoeg 85 gevalle per jaar, maar dis meestal van enkele diere.

Die departement sê dis nie bekend waarom walvisse en dolfyne gestrand raak nie, maar dit kan moontlik toegeskryf word aan siekte, navigasiefoute, geografiese kenmerke, ʼn gety wat skielik sak, dat hulle deur ʼn roofdier gejaag word of uiterste weersomstandighede.

Etlike ander gevalle van walvisse wat aan Nieu-Seeland se kus gestrand het, het ook die naweek voorgekom, maar die gevalle hou bes moontlik nie met mekaar verband nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.