15 jaar: Maddie McCann se ouers onthou

Madeleine McCann

“Vanjaar is dit 15 jaar sedert ons Madeleine laas gesien het. Dit voel nie moeiliker as enige ander jaar nie, maar ook nie makliker nie. Dit is ʼn baie lang tyd.”

Só het die ouers van die vermiste Britse kleuter Madeleine McCann Dinsdag op die 15de herdenking van haar verdwyning gesê.

Madeleine was drie jaar oud toe sy op 3 Mei 2007 ʼn paar dae voor haar vierde verjaarsdag uit haar gesin se woonstel in die Portugese vakansieoord Praia da Luz verdwyn het. Haar ouers het die betrokke aand saam met vriende aandete by ʼn nabygeleë restaurant geniet toe sy verdwyn het.

Kate en Gerry McCann het Dinsdag in ʼn verklaring gesê dit is noodsaaklik om agter die waarheid te kom oor wat daardie aand met hul kind gebeur het.

“Ongeag die uitkoms, Madeleine sal altyd ons dogter wees en ʼn werklik grusame misdaad is gepleeg. Hierdie dinge sal bly.

Madeleine se ouers, Kate en Gerry McCann. (Foto: Joe Giddens/Pool via AP)

“Dit is waar dat onsekerheid swakheid skep; kennis en sekerheid gee krag. Juis daarom is ons behoefte aan antwoorde, ter wille van die waarheid, noodsaaklik.”

Ná jare sonder enige moontlike leidrade is Christian Brueckner (43), ʼn veroordeelde verkragter, formeel geïdentifiseer as die verdagte in die verdwyning van Madeleine. Dié Duitser is wel nog nie formeel aangekla nie. Klein Madeleine se liggaam is ook nog nie gevind nie.

Brueckner, wat tans sewe jaar tronkstraf in Duitsland uitdien vir die verkragting van ʼn 72-jarige vrou in Praia da Luz in 2005, hou vol hy was nie die aand van Madeleine se verdwyning in die omgewing van Praia da Luz nie.

Sy alibi is nou dat hy ten tyde van die kleuter se verdwyning seksuele omgang met ʼn Duitse vrou in sy kampeerwa gehad het, berig SkyNews.

Die Duitse polisie het blykbaar ʼn foto van die vrou in sy kampeerwa gevind tydens hul ondersoek na die verkragting waarvoor Brueckner nou tronkstraf uitdien.

Brueckner kon glo aanvanklik nie die vrou se naam verskaf nie, maar het haar intussen geïdentifiseer.

Indien dit waar is, sal Brueckner se alibi noodsaaklike getuienis, hoewel van omstandigheidsaard, weerspreek van selfoondata wat hom naby die woonstel plaas waar Madeleine destyds uit haar bed verdwyn het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

efjy ·

Hoe onthou ‘n mens presies wat jy 15 jaar gelede op ‘n spesifieke aand gedoen het, of onthou jy dit vir alibi.???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.