15-jarige in hof oor driejarige halfboetie se moord

Argieffoto

ʼn 15-jarige meisie het Maandag in ʼn hof in Duitsland verskyn in verband met die moord op haar driejarige halfboetie. Staatsaanklaers voer aan sy het hom 28 keer met ʼn mes gesteek.

Die voorval het in November by die gesin se woonstel in Detmold plaasgevind toe die seuntjie geslaap het. Die ouers was nie in daardie stadium tuis nie.

Familielede het op die seuntjie se liggaam afgekom en die polisie ontbied. Die meisie is die volgende dag sowat 9 km daarvandaan in Lemgo aangekeer.

Sy het nie haar inhegtenisneming teengestaan nie en was kalm toe sy aangekeer is, aldus die staatsaanklaers. Sy het vermoedelik die nag buite deurgebring en op grondpaaie na die buurdorp geloop.

Die meisie het skuld beken ná haar inhegtenisneming, maar gesê sy ly aan geheueverlies.

Die land was geskok toe inligting oor die moord verlede jaar onthul is. Een van die vrae in die hofsaak is waarom die meisie só opgetree het.

“My kliënt wil dit ook weet en het dus met die sielkundige kenner saamgewerk,” het Helmut Woehler, vir die meisie, Maandag aan die dpa-nuusagentskap gesê.

Die sielkundige kenner is een van ongeveer 20 getuies wat na verwagting tydens die verhoor sal getuig. Hy is gevra om kommentaar te lewer oor die meisie se ontwikkeling en haar strafregtelike aanspreeklikheid.

Die meisie kan tot 10 jaar tronkstraf opgelê word as sy skuldig bevind word. Sy is teruggetrokke in aanhouding. Sy woon skool by in die tronk.

Die hofverrigtinge vind agter geslote deure plaas omdat sy ʼn minderjarige is. Die hof het nog drie hofdatums geskeduleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.