15-jarige maak geskiedenis by Aussie Ope

Marta Kostyuk. Foto: AP Photo/Dita Alangkara

Die 15-jarige Marta Kostyuk het geskiedenis gemaak by die Australiese Ope.

Kostyuk het Olivia Rogowska Woensdag met 6-3, 7-5 gewen om die jongste speler die afgelope twee dekades te word om die derde ronde van die Australiese Ope te haal.

“Ek wil altyd wen, maak nie saak wat nie. As ek verloor het, was dit ʼn tragedie. Ek het nou uiteindelik begin om dit te geniet,” het Kostyuk gesê.

Dit is Kostyuk se eerste keer dat sy aan ʼn Grand Slam-toernooi deelneem. Sy is 521ste op die wêreldranglys en het nog net sowat $7 000 verdien. Kostyuk se oorwinning oor Rogowska het haar egter $113 500 in die sak besorg.

Kostyuk van die Oekraïne het reeds geskiedenis gemaak deur die eerste speler te word wat in die jaar 2002 gebore is om vir die hoofloting van ʼn Grand Slam-toernooi te kwalifiseer. Sy het verlede jaar die Australiese Ope se junior toernooi gewen.

Sy het in die eerste ronde van vanjaar se Australiese Ope met die 25ste gekeurde Peng Shuai afgereken. Haar ma was ook ʼn professionele tennisspeler en is nou betrokke by haar afrigting. Kostyuk word bestuur deur die voormalige nommerdriespeler Ivan Ljubicic wat ook tans deel is van Roger Federer se afrigtingspan.

Kostyuk kom volgende teen haar landgenoot en vierde gekeurde Elina Svitolina te staan.

Mirjana Lucic-Baroni het in 1997 op 15-jarige ouderdom die derde ronde van die Australiese Ope gehaal terwyl Martina Hingis dit in 1996 gedoen het.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nico K ·

Dit is interessant dat tiener spelers nie meer so algemeen is as in die 80’s en 90’s. Deesdae is ‘n persoon onder 20 in die kwarteindrondtes skaars. Ek onthou een jaar wat Steffie Graf op 19 die oudste van die vier spelers in die halfeindrondte op Wimbeldon was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.