15 sterf in Japan-vloede; 14 word steeds vermis

Vloede in Japan (Julie 2017) Foto: Junko Ozaki/Kyodo News via AP

Die dodetal het intussen tot 15 gestyg ná vloede en swaar reën die afgelope week in Japan.

Reddingswerkers het Saterdag afgeleë gebiede bereik waar minstens 14 persone vermis word en vermoedelik dood is.

Waarskuwings vir swaar reën is Saterdag steeds van krag vir dele van die suidelike eiland Kyushu ná tifoon Nanmadol Japan getref het. Honderde huise en paaie is verwoes deur modderstortings.

Altesaam 12 000 soldate, brandbestryders en ander reddingsbeamptes is op soek na die vermiste persone, en besig met skoonmaakwerk. Hulle verskaf ook vars water en kos aan diegene wat haweloos gelaat is.

Nagenoeg 1 000 inwoners is die afgelope twee dae gered, maar talle is steeds gestrand.

Honderde persone in verafgeleë dorpe is deur weermaghelikopters weggeneem terwyl soldate deur vloedwater gestap het met bejaarde persone op die rug.

Japan se koninklike familie het Saterdag die formele aankondiging van prinses Mako se verlowing met ʼn kollegeklasmaat uitgestel ter nagedagtenis aan die lyding van persone in die betrokke gebiede. ʼn Nuwe datum moet nog bepaal word.

Japan se meteorologiese agentskap het gesê Fukuoka en Oita het ongekende reënval beleef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.