150 vas wat glo op donkerweb smous

Foto: SAPD/Facebook

Europese en Amerikaanse wetstoepassingsagentskappe het 150 mense in hegtenis geneem wat glo dwelms, vuurwapens en ander onwettige goedere op die sogenaamde donkerweb gekoop en verkoop het.

Volgens Europol en Amerikaanse owerhede is daar onder meer beslag gelê op miljoene euro’s in kontant én virtuele geldeenhede tydens ʼn maande lange operasie.

Die meeste van die inhegtenisnemings, wat oor etlike maande plaasgevind het, was in die VSA waar 65 mense in hegtenis geneem is.

In Duitsland is 47 mense in hegtenis geneem en in Brittanje is 24 mense vasgetrek. Daar was ook inhegtenisnemings in Bulgarye, Frankryk, Nederland, Italië en Switserland.

“Die doel van operasies soos hierdie is om misdadigers wat op die donkerweb werk, te wys dat wetstoepassingsagentskappe die middele en wêreldwye vennootskappe het om hulle te ontmasker en aanspreeklik te hou vir hul onwettige aktiwiteite,” het Jean-Philippe Lecouffe, Europol se adjunkdirekteur van operasies, gesê.

Amerikaanse amptenare het op ʼn nuuskonferensie in Washington gesê dat onwettige dwelmhandel tydens die Covid-19-pandemie meer na die donkerweb oorgeskuif het.

Lisa Monaco, Amerika se adjunk-prokureur-generaal, het gesê meer as 90% van die sowat 200 000 dwelmtablette waarop beslag gelê is in die VSA, het “nagemaakte opioïede of ander verdowingsmiddels” soos die uiters gevaarlike fentaniel bevat.

Die Amerikaanse owerhede het onder meer in Houston, Texas, toegeslaan waar talle oortreders in hegtenis geneem is in verband met ʼn operasie waar anonieme bestellings aanlyn geneem is en dwelms per pos aan kopers oor die hele land gestuur is.

Daar is op altesaam €26,7 miljoen in kontant, 45 vuurwapens en 234 kg dwelms beslag gelê tydens die operasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Shakespeare ·

Lyk my die hele wêreld is in ‘n “downward spiral” wat kriminele aanbetref. Bring die doodstraf terug.

Barney ·

Hoekom arresteer hulle nie die mense wat kinders as slawe martel en verkoop oor die internet nie? ń .22 en ivermectin red te minste lewens.

Danie ·

Verduidelik asb hoe . 22 in n misdadiger se hande n lewe red?

Jean ·

En die mense sê die “Darkweb is untraceable”.
Snaaks die polsie vang die mense so maklik maar los die mense wat kinder
pornogrofie op die darkweb sit.

Heinrich ·

Goed gedoen; dis hoe dit in ontwikkelde lande gebeur. Ter plaatse is dit ‘n klomp plunderaars en boewe wat in beheer gehou word deur meer plunderaars en boewe wat vir hulle stem, met baie polisie wat ook deel is van die kriminele wêreld.

Piet parys ·

Hulle kon niemand vang in Rsa wat deel van die web werf was nie want daar is seker vanuit n 5 ster tronk die besigheid bedryf ???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.